Inwoner geskiet toe hy ondersoek instel na geraas buite sy huis
“Ek het gesien dat een van my voertuie se deur oop was en toe ek nader beweeg, het ‘n man opgespring en op my geskiet.”
‘n 47-Jarige inwoner van Brakpan-Noord is Dinsdagaand in die skouer geskiet toe hy gaan ondersoek instel het na ‘n geraas in sy erf.
Sybrandt van Niekerk het twee booswigte betrap, wat agter een van sy voertuie geskuil het. Een van die mans het die skoot, wat hom in die skouer getref het, afgevuur, waarna beide op die vlug geslaan het.
Die inwoner se probleme het egter nie Dinsdagaand begin nie, maar ‘n vlaag van voorvalle, wat sedert Junie verlede jaar voorgekom het, het hom nou erg bekommerd.
Van Niekerk vertel dat een van sy honde verlede jaar in Junie vergiftig is.
“Ek het daarna ‘n jong Great Dane aangeskaf, wat saam met my ander honde groot geword het,” het hy vertel.
Gedurende Desember is daar by ‘n buitegebou ingebreek waar verskeie items gesteel is.
“Verlede week het ek opgemerk dat ‘n hek, wat ek nie toegemaak het nie, toe was en die aand was daar ook ‘n stok by my veiligheidshek ingedruk.”
In dié tyd is die Great Dane ook vergiftig.
Verlede Sondagoggend ongeveer 2.30vm het Van Niekerk ‘n geraas buite gehoor en gaan ondersoek instel.
Hy het sy Chow en ‘n Pekingese dood aangetref in die voorerf.
“Uit die aard van die saak was ek bekommerd en Dinsdagaand toe ek by die huis kom, het die bure my boonop meegedeel dat hulle iemand helder oordag in my erf betrap het.”
Die persoon het, ten spyte van die bure se poging om hom te verhoed, daarin geslaag om met ‘n gereedskapboks weg te kom.
“Ek was later die aand in die huis doenig en die hond, wat saam met my in die huis bly, was onrustig.”
“Ek het uitgegaan, maar niks gesien nie. ‘n Klein rukkie later het ek besluit om net weer ‘n draai te maak, om seker te maak alles is in orde.”
“Ek het gesien dat een van my voertuie se deur oop was en toe ek nader beweeg, het ‘n man opgespring en op my geskiet,” het Van Niekerk gesê.
Hy kon daarin slaag om ‘n buurman te bel en het ook die polisie gekontak.
Van Niekerk is kort daarna na ‘n hospitaal geneem vir behandeling, waarna hy ontslaan is.
“Die koeël het gelukkig regdeur my arm getrek sonder om groot skade aan te rig,” het Van Niekerk gesê.
Alhoewel hy baie verlig is dat hy relatief lig daarvan afgekom het, is hy ontevrede met die diens wat hy van die SAPD ontvang het.
“Toe my honde vergiftig is, moes ek baie lank wag voordat die polisie by my uitgekom het.
“Dinsdagaand was ek in groot nood en dit het ook ‘n ruk geneem vordat iemand by my huis opgedaag het.”
Van Niekerk voel dat die lede ook meer moeite kon doen om vir leidrade te soek.
“Die lede wat hier was, het in my huis rondgekyk en nie moeite gedoen om die omgewing te fynkam vir die oortreders nie.”
Die woordvoerder vir die Brakpan SAPD, kapt Pearl van Staad het gesê dat al die rolspelers van die SAPD op die toneel was na die voorval en dat die nodige vingerafdrukke geneem is.
Sy het ook bygevoeg dat die gemeenskap altyd sake moet aanmeld, wanneer honde vergiftig word, en op ‘n saaknommer moet aandring.
“Enige inligting wat die SAPD in staat sal stel om misdaad te bekamp, moet aangemeld word. Die publiek kan 10111 skakel. ‘n Verwysingsnommer sal verskaf word,” het Staad gesê.
Lees ook:
Volg ons:
Ontvang die nuutste nuus op jou foon:
WhatsApp nommer: 0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)



