Erg uitgeteerde hondjie van gewisse dood gered
Die egpaar het hul hek oopgelaat en die hondjie geroep en tot hul verligting het dit sukkel-sukkel tot in die erf geloop waar dit teen ’n muur in die son gaan lê het.
Die goedhartigheid van ’n egpaar van Brakpan-sentraal het gesorg dat ’n erg ondervoede hondjie nou ’n veilige tuiste met oorgenoeg kos het.
Die klein tefie, wat ’n miniatuur Pincher kruising is, sou waarskynlik van die honger omgekom het as dit nie was vir Marie (57) en Tjaart (63) Kruger van Hannahstraat se ingryping nie.
Hulle het die uitgeteerde hondjie, wat skaars kon regop staan, verlede Donderdag op ’n sypaadjie naby hul huis opgemerk.
“Ons het self miniatuur Doberman Pincher hondjies en ek kon dit net nie oor my hart kry om die hondjie so te sien ly nie,” het Marie vertel.
“Die stomme dier was baie swak en kon skaars loop, maar dit het probeer weg beweeg toe ons nader aan dit probeer kom het.”
Die egpaar het hul hek oopgelaat en die hondjie geroep en tot hul verligting het dit sukkel-sukkel tot in die erf geloop waar dit teen ’n muur in die son gaan lê het.
“Ek het dadelik van my hondjies se kos en water naby die hond gaan neersit, maar aanvanklik wou die stomme dier nie eet nie.”
Marie vertel egter dat die skrikkerige hond, na so rukkie, die bakkie kos verslind het en ook water gedrink het.
“Ons het maar stadig begin vriende maak en dit gaan darem al baie beter met Ruby, soos sy nou gedoop is,” het Marie vertel.

Marie het ook ’n foto van die uitgeteerde hondjie op Facebook geplaas in die hoop dat die regte eienaar na vore sal kom, maar dit het nog nie gebeur nie.
“Indien Ruby se eienaar haar nie kom opeis nie, sal ons haar beslis versorg en sorg dat sy voortaan soos ’n koningin lewe.”
Ruby was die week nog skrikkerig met haar stert tussen die bene, maar dit was duidelik dat die brakkie die afgelope paar dae goed geëet het en by die gesin begin aanpas het.
“Ons was maar nog altyd baie lief vir ons diere en ek kan nie verstaan waarom iemand ’n dier sommer net so sal laat nie.”
“Daardie hondjie het vir baie dae geen kos of water gehad nie en ek is net dankbaar dat ons dit kon red,” het Marie gesê.
Lees ook:
Hondjie in warm kar toegesluit
Starving and injured boerboel rescued
Man Saves A ‘Dead’ Dog In The Road
Volg ons:
Ontvang die nuutste nuus op jou foon:
WhatsApp nommer: 0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)



