CrimeEditor's choiceNewsBreaking News

Ma sien hoe vreemdeling poog om doofstom kind in kar te forseer

‘n 33-Jarige ma van die dorp het vanmiddag (Dinsdag) angsvolle oomblikke beleef toe ‘n man gepoog het om haar doofstom seun in sy kar te trek.

Alta Swanepoel was ongeveer 1.30nm met haar twee kinders Stoltz (10) en Antionette (6) te voet op pad na Sherwood Pick n Pay toe die vreemde voorval plaasgevind het.

“Ek loop gereeld na Pick n Pay en die kinders geniet dit om saam te stap,” het Swanepoel vertel.

Sy sê dat sy ‘n wit Polo met donker vensters sowat ‘n blok van die Pick n Pay gesien staan het.

“Die voertuig het in Voortrekkerweg gestaan met die noodligte aan. Dit het voorgekom of die persoon vir iets of iemand gewag het, maar ek het my nie veel daaraan gesteur nie. Ek kon in elk geval nie in die kar sien nie.”

“Die kinders huppel of draf soms so entjie voor my uit, maar ek is maar versigtig, juis omdat Stoltz nie kan hoor nie,” het Swanepoel gesê.

Volgens haar het die wit Polo skielik by Huntingdon (wat reg langs die Sherwood Inkopiesentrum geleë is)  ingedraai en stilgehou.

“Stoltz was so entjie voor my en voordat ek iets kon doen, het die bestuurder van die Polo die passasiersdeur oopgemaak en gepoog om vir Stoltz in die voertuig te kry.”

“Ek het my boeglam geskrik en wou nog reageer toe daar ‘n ander voertuig, met twee mans, van voor aankom.”

“Dié persone moes ook gesien het wat gebeur het en het stilgehou. Die bestuurder van die Polo het toe die deur toegemaak en weggejaag.”

“Ek sidder om te dink was sou gebeur het as daardie twee mans nie op die oomblik daar stilgehou het nie.”

‘n Geskokte Swanepoel het aan haar seun verduidelik (hulle kommunikeer deur middel van vingertaal)  wat gebeur het en volgens haar het hy groot geskrik en het na die voorval haar hand baie styf vasgehou.

“Dit is nou skoolvakansie en ek wil maar net al die ouers waarsku om versigtig te wees,” het Swanepoel gesê

Sy het aangedui dat sy die voorval by die SAPD sou gaan aanmeld.

Lees ook: 

Ma vat vier rowers aan toe hulle haar kind uit motor wil pluk

Huilende vrou steel skolier se selfoon

School holidays: Practise safety tips with your kids

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button