Editor's choiceLocal newsNews

Morries leerder is in die kollig

Leer vir Laerskool Môrewag se hoofseun ken, Zander Fourie.

Zander Fourie (13) is vanjaar die hoofseun van Laerskool Môrewag. Hy is sy ouers, Marilize en Dawie Fourie van Brenthurst, se enigste kind.

• Jy is die hoofseun van Laerskool Môrewag. Die eerste kwartaal is verby. Wat het vir jou uitgestaan en was daar ’n oomblik wat jy liewers sou wou vergeet?

Wat vir my uitgestaan het van die eerste kwartaal was die aand toe ek as die hoofseun van Laerskool Môrewag aangewys is. Dit was ’n baie groot en trotse oomblik vir my. Die eerste kwartaal was ’n lekker kwartaal, ek het dit baie geniet, so nee, daar is nie vir my ’n oomblik wat ek liewers sou wou vergeet nie.

• Wat maak ’n goeie leier?

Ek voel ’n goeie leier moet ten alle tye leiding kan neem, maar veral in moeilike situasies. Jy moet altyd ’n voorbeeld wees vir jou mede leerders en gehoorsaam aan die skool reëls wees.

• Dink jy dit is belangrik dat skole leiers aanstel?

Ja beslis, elke skool het leiers nodig. Die onderwysers het reeds hul hande vol en leiers is daar om hul te help.

• As jy raad vir jonger leerders kon gee, wat ook graag hoofseun/meisie wil word, wat sal dit wees?

Ek sal sê jy moet net ten alle tye jouself wees en jy moet hard werk en jou bes gee in alles wat jy vir jou skool doen. Goeie gedrag en dissipline is belangrik, want ’n leier moet ’n goeie voorbeeld vir die res van die skool wees.

• Die jaar is nog lank, waarna sien jy die meeste uit?

Ek sien baie na ons skool se jaarlikse golfdag wat in Junie plaasvind, uit.

• Watter vak is vir jou die lekkerste en hoekom?

My gunsteling vak is wiskunde. Ek geniet die uitdagings van syfers omdat ek baie van uitdagings hou.

• Watter vak sal jy liewer ’n mis gee as jy kan?

Ek hou van al my vakke, maar as ek moet kies sal ek ekonomiese bestuurswetenskappe ’n mis gee.

• Beoefen jy sport by die skool en dink jy dit is belangrik dat kinders aan sport deelneem?

Ja, ek neem deel aan atletiek, rugby, tweekamp en krieket. Ek sal beslis ja sê dat dit belangrik is om aan sport deel te neem. Dit is baie goed vir ’n mens se liggaam en verstand. Sport leer ons ook om dissipline te hê en om met ander kinders oor die weg te kom. Dit leer ons ook dat ons nie altyd kan wen nie en dat daar altyd plek vir verbetering is.

• Dink jy daar is hoop vir die jong mense van hierdie land?

Ja, daar is. Ons moet net positief bly en meer fokus op hoe ons die land ’n beter plek kan maak vir almal in plaas van om net die negatiewe dinge raak te sien.

• As jy een wens het wat bewaarheid sou kon word, wat sou dit wees?

Ek sal graag Amerika toe wil gaan.

• As jy vir een dag die president van die land kon wees, wat sou jy doen?

Ek sou dat alle mense gelyke regte gehad het en ek sou ons land se staatsdienste, soos die hospitale, verbeter.

• Het jy al besluit wat jy eendag wil word?

Ek wil graag eendag ’n dokter word.

• Wat maak jou baie gou kwaad?

Dit maak my baie kwaad wanner daar gespot word met mense wat gestrem of minder bevoorreg is.

• Jy moet vir twee weke op ’n eiland gaan bly en jy mag net vyf items saam neem. Wat sal dit wees?

My televisie, my selfoon, ’n rugbybal, my kitaar en my Bybel.

Lees ook: Morries se hoofseun woeker met sy talente

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button