In die kollig: Leer vir Stian Celliers ken
Stian Celliers van die Sonneveld Akademie is in die kollig.
Stian Celliers (12) is die hoofseun van Sonneveld Akademie. Hy woon saam met sy ouers, Johan en Mercia Jordaan, in Dalpark.
Lees: In die kollig: Leer Laerskool Dalview se hoofseun ken
* Jy is vanjaar die hoofseun van die Sonneveld Akademie en jy moes nou al vir ‘n paar maande op jou pos wees. Hoe ervaar jy die rol tot dusver?
Dit is ‘n groot voorreg en ‘n groot verantwoordelikheid met baie uitdagings.
* Wat is jou pligte as hoofseun van die skool?
Ons pligte as hoofleiers is om ons diensroosters te laat werk, asook om te kyk dat alle leiers op hul diensplekke is. Ons moet steun aan die onderwysers bied om te help met dissipline. Ons grootste plig is om ‘n voorbeeld vir ons maats te wees.
* Wat maak van ‘n mens ‘n goeie leier?
Nederigheid, eerlikheid, vertroue en deelname aan enige aktiwiteite. Die belangrikste is egter ‘n oor wat luister as daar hulp en leiding gegee moet word.
*Waarom dink jy is dit belangrik dat daar leiers in skole aangestel word?
Om die onderwysers by te staan in hul pligte en hul las minder te maak, maar ook om ons verantwoordelikheid te leer en om dissipline toe te pas.
* Deesdae hoor mens gereeld van boeliery in skole, wat is jou mening daaroor?
Boeliery kom nie net voor in skole nie, maar ek is heeltemal gekant teen boelie. Om geboelie te word, kan jou hele menswees breek. Daar moet ‘n rede wees hoekom iemand boelie. Ek dink iemand wat boelie is iemand wat op een of ander manier geboelie word, daarom het die boelie en die slagoffer hulp nodig.
Gelukkig het ons by Sonneveld Akademie ‘n anti-boeliebeleid in plek.
* Indien jy vir een dag die skoolhoof van jou skool kon wees, hoe sou die dag lyk?
Ek sal niks verander nie. Elke dag is ideaal. Die hoof kwyt hom baie goed van sy taak.
* Hoeveel tyd spandeer jy op jou selfoon en dink jy dat die jong kinders van vandag te veel tyd op hul selfone spandeer?
Ek spandeer nie baie tyd op my selfoon nie. Dis vir my lekkerder om by die parkie te speel. Baie kinders spandeer te veel tyd op hul selfone en ek dink dit is sleg, want sosiale media is baie gevaarlik.
* Beoefen jy enige stokperdjies?
Ja, ek ry graag motorfiets.
* Het jy ‘n troeteldier?
Ja, ons het drie honde by die huis.
* As jy een wens het wat bewaarheid sou kon word, wat sou dit wees?
Al wat ek voor sal wens is vir vrede op aarde,
*Wat laat jou sommer lekker lag?
My vriende wat die snaaksste grappies maak.
* Wat maak jou baie gou kwaad?
Mense wat leuens vertel om hulself uit die moeilikheid te kry.
Volg ons:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



