Local newsNews

Luandré is die lig in sy ouers se lewe

Hy is ook ’n normale kind; hy is net ’n kind met ’n sindroom.

’n Egpaar van die dorp wat eers twee maande na hul kind se geboorte uitgevind het dat hy Downsindroom het, se aanvanklike skok en vrees vir die toekoms het gou plek gemaak vir aanvaarding en normaliteit.

Sonandi (29) en Ruan (28) Geldenhuys is die ouers van Luandré (22 maande).

“Downsindroom is nie iets waaraan mens dink totdat dit deel word van jou eie lewe of mense na aan jou se lewe nie,” het Sonandi by hul huis in Dalview vertel.

“Ons het tog die Downsindroom toets op 16 weke van my swangerskap laat doen en die dokter het gesê dat ons kanse een uit 1 047 is en geen verdere toetse is gedoen nie.

“Na sy geboorte het ons glad nie besef dat hy Downsindroom het nie, totdat hy twee maande oud was en ’n vreemdeling ’n opmerking gemaak het en gevra het of Luandré Downsindroom het. Ek kan nie verduidelik wat deur my kop gegaan het nie.

“Ek was hartseer omdat ek nie kon glo dat mense dit van my seuntjie dink nie. Ek was kwaad omdat ons dit nie kon sien nie, en saam al die emosies het ek myself blameer omdat ek gedink het dat ek dalk iets verkeerd gedoen het tydens die swangerskap.

“Ons was eintlik net heeltemal oningelig oor Downsindroom.

“Die volgende dag is ons dokter toe, waar ons bloedtoetse laat doen het en na vyf weke het ons ’n oproep ontvang wat bevestig het dat Luandré gediagnoseer is met trisomy 21.

ALSO READ: 

Egpaar se plek in kerk is nou vir altyd leeg

“Dit was een van die moeilikste dae van my lewe.

Ruan was die een wat die inligting oorgedra het en ek het dadelik begin huil terwyl ek vir Luandré teen my lyf vasgedruk het. Ek kon nie beweeg nie en het net geskok daar gestaan.

“Dit het vir my lank gevat om gewoond te raak aan die idee. Ek was bang, ek het oor die toekoms gedink en die slegste gedagtes het in my kop gemaal. Ek was bang dat iemand sy selfbeeld sal afkraak en ek hom nie sal kan beskerm nie of dat Luandré afgeskeep sou word omdat hy spesiale aandag nodig het. Ek was bang dat ek nie die regte mamma vir hom sal kan wees nie of dat ek nie mooi genoeg na hom sal kan kyk nie. Ek was bekommerd dat ons mekaar nie gaan verstaan nie.

“Vandag kyk ek terug en ek kan nie glo dat ek so gevoel het nie.

“Ons verstaan mekaar, ons lag en speel saam.

“Ons gesin is onafskeidbaar.”

Die ouerpaar is veral trots op die feit Luandré vanjaar gekies is as ambassadeur vir die Downsindroom Vereniging van Gauteng. Die blondekop se gesiggie is oral te sien op foto’s, pamflette en baniere wat deur die vereniging gebruik word.

“Ons maak Luandré so normaal as moontlik groot, daar is niks wat hy nie kan doen nie.

“Ons is natuurlik nie seker oor al die uitdagings wat vorentoe wag nie, maar ons sien uit na die toekoms en ons kan nie wag om te sien watter hoogtes hy gaan bereik nie.

“Dit het vir ons ’n prioriteit geword om bewustheid oor Downsindroom te skep en mense in te lig oor wat dit werklik is. Ons advies aan enige ouer wat hulself in dieselfde situasie bevind is om nie slegs op die internet vir hulp en antwoorde te gaan soek nie. Tot dusvêr is dit die enigste fout wat ons begaan het. Alles wat daar staan is nie noodwendig hoe dit is nie.

“Ons advies aan die publiek daar buite is, is om te vra. Ek wil hê mense moet my vra oor my seuntjie.

“Mense moet ook in ag neem dat my kind Downsindroom het. Hy ís nie Downsindroom nie. Hy is ook ’n normale kind; hy is net ’n kind met ’n sindroom.”

Have a story?

Contact the newsroom by emailing: Thelma Koorts  (editor) brakpanherald@caxton.co.za or Stacy Slatter (news editor) stacys@caxton.co.za

Remember to visit the Brakpan Herald on the following social media platforms:

 Follow us:

    

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button