Fotograaf se plek langs renbaan nou leeg
Oosthuizen was reg oor Suid-Afrika bekend vir sy betrokkenheid langs en op die wedrenbane.
Motorsport en renjaer geesdriftiges het die afgelope week hulde gebring aan Gert ‘Oosie’ Oosthuizen wat Donderdag op 65-jarige ouderdom aan Covid-19-verwante oorsake oorlede is.
Oosthuizen, wat ’n jarelange inwoner van die dorp was, het die afgelope 25 jaar in Brakpan-Noord gewoon.
Hy was ’n afgetrede argitek wat hoofsaaklik bouplanne geteken het en hy was ook hoof bouinspekteur vir die Benoni munisipaliteit tot en met sy aftrede.
Aries praat ’n hond uit ’n bos
Volgens sy dogter, Maryke Liebenberg, het haar pa op 30 Julie positief getoets vir Covid-19 en is hy op 2 Augustus in die hospitaal opgeneem toe sy gesondheid tuis versleg het.
“My pa is op 10 Augustus ontslaan. Dit het goed gegaan met hom en ons was almal vol hoop dat hy op die herstelpad was. Toe is hy skielik in die vroeë oggendure van 12 Augustus oorlede,” het Maryke gesê.
Oosthuizen sal veral onthou word vir sy betrokkenheid by motorwedrenne (oval-track racing).

Hy het ’n besigheid, Oosies Racetique, op die been gebring, wat foto’s, videos en memorabilia by motorsport geleenthede verkoop het.
Volgens Maryke het haar pa motorsport fotografie begin as ’n stokperdjie, maar dit het later in so ’n mate uitgebrei dat dit ’n leefwyse geraak het.
“My pa het ’n absolute passie daarvoor gehad en het dit met baie toewyding gedoen,” het sy bygevoeg.
Pas bekend: Pa wat deur rowers geskiet is, oorlede
Oosthuizen was reg oor Suid-Afrika bekend vir sy betrokkenheid langs en op die wedrenbane.
Hy was die afgelope vier jaar aan Debbie Oosthuizen getroud. Hy laat vier kinders, Gert, Rudie, Maryke en ’n stiefdogter, Jessica Swanepoel, agter.
’n Troosdiens word Vrydag vir Oosthuizen gehou.



