Local newsNews

Vermiste hond tuis na meer as ‘n jaar

Die gesin se hondekind is 'n jaar gelede uit hul erf gesteel.

Die Wiid gesin van Brenthurst se geliefde Pekingese is na ‘n jaar weer tuis nadat die Brakpan DBV haar opgespoor het. In Mei 2021 is dié gesin se geliefde Bella uit hulle erf gesteel.

Dié nare ontdekking het hulle gemaak met hul aankoms tuis, toe daar geen teken van Bella was nie.

“Dit is wel moontlik dat iemand ons hek kon oop forseer het, aangesien dit slegs met ‘n slot gesluit was,” het Mariaan gesê.

Die gesin het hul vermiste Bella by die DBV aangemeld en vir maande lank na haar gesoek.

“Ons het nooit ophou soek nie,” het sy bygevoeg.

Haar dogter Jessica is Bella se eintlike eienaar.

Volgens Mariaan was Bella en Jessica onafskeidbaar. “Sy het in Jessica se bed geslaap en het selfs saam gegaan as ons by mense gaan kuier het.”

Einde Mei vanjaar het die Brakpan DBV op Bella afgekom op ‘n afgeleë plot.

Sy was aan ‘n kort tou vasgebind om te verhoed dat sy van die eiendom ontsnap. Volgens die DBV het sy geen komberse, min toegang tot water en ‘n vernielde hondehok gehad.

Die Brakpan DBV het op hul Facebookblad vertel hoe Bella gely het en het daardeur mense aangemoedig om hulle diere beter te hanteer.


LEES OOK: Tutela bring verligting aan armes


Met dié plasing het Mariaan dadelik vir Bella herken en met die DBV in kontak getree.

Die gesin het haar by die DBV besoek en vasgestel dat dit wel Bella is.

“Ek was oorweldig, dit het vir my soos ‘n droom gevoel.”

Bella het glo onmiddellik die Wiid gesin herken. Sy is eers gebad, geskeer en gesteriliseer voordat sy huis toe kon gaan.

Vanaf 8 Junie is Bella weer terug waar sy hoort.

“Sy was vir die eerste paar dae effe skrikkerig, sy was immers vir ‘n jaar lank aan ‘n tou vasgemaak,” het Mariaan gesê.

Bella word beskryf as ‘n goed gemanierde, woelige en liefdevolle aandag vraat.

“Dit voel onwerklik om haar weer tuis te hê. Ons het nou ook ons erf meer beveilig sodat dit nie weer kan gebeur nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button