Karlien Roets (6) se ouers, Karen en Frikkie Roets voer nog steeds daagliks ‘n stryd om vir hul kind die beste moontlike mediese sorg te kan voorsien.
Dit kom met groot opoffering van hul kant en hulle hoop dat hulle eendag in ‘n posisie sal wees om self vir hul kind te kan sorg.
Op die huidige oomblik is dit nie moontlik nie en die ouerpaar is ongelooflik dankbaar vir elke donasie wat goedhartige mense en organisasies steeds maak.
Karlien is op 10 Augustus 2018 ernstig beseer toe ‘n kombuiskas op haar geval het. Haar pa, Frikkie, was besig om kaste in ‘n nuwe kombuis in die huis te installeer.
LEES OOK: Help find missing woman
Karlien het ‘n los kas op haar omgetrek en het ernstige breinbeserings in die proses opgedoen.
“Dit gaan goed met Karlien en ons sien steeds, met groot blydskap, die vordering wat sy maak,” vertel Karen.
Die kind het vroeër vanjaar `n operasie aan haar ogie, wat sedert die ongeluk probleme gegee het, ondergaan. In Mei het sy ‘n prostetiese oog ontvang.
“Sy het dit baie goed hanteer. Haar linkeroog (die gesonde oog) het gou aangepas en sy hou ons omtrent dop met daardie ogie van haar.”
Volgens Karen ontvang sy steeds gereeld arbeids- en spraakterapie.
LEES OOK: Vrou oorwin seldsame hartsiekte
“Die terapeute werk saam en dit is duidelik dat Karlien dit baie geniet.”
Ons kyk ook voortdurend na moontlikhede om haar minder afhanklik van die ventilator te maak.
“Die mikpunt is natuurlik om haar heeltemal van die ventilator af te kry want dan is daar weer ander tipe terapie wat ons kan inspan om haar gesondheid te bevorder,” het Karen verduidelik.
Karen vertel van hoogtepunte soos die keer toe sy beide haar arms opgelig het.
“Wanneer so iets gebeur word ons net van vooraf gemotiveer.”
Haar 24-uur verplegingsorg is vir die ouers ‘n groot gerusstellende faktor maar dit kom teen ‘n enorme prys.
“Mense het al gevra waarom ek nie self haar versorging oorneem nie maar ek moet werk. Die verpleegsters wat met haar werk is ook van onskatbare waarde en hulle lewer ‘n professionele diens.”
“Ek en Frikkie se doelwit is om eendag al die onkostes te kan dra sonder om gereeld bakhand te staan.”
“Maar op die oomblik is dit nie moontlik nie. Die afgelope twee fondsinsamelingsprojekte wat ons gereël het, het nie gerealiseer nie en dit veroorsaak dat ons rekeninge ophoop.
“Elke donasie wat ons ontvang word oorbetaal vir haar mediese sorg.”
“Ons kan nie ons dankbaarheid genoeg uitspreek teenoor die mense en organisasies wat steeds help nie.”
“Karlien is nog steeds en sal altyd ons klein vegter bly en ons sal alles in die stryd werp om die pad saam met haar te stap.
• Die publiek wat belangstel om vir Karen en Frikkie Roets môre (Saterdag) te ondersteun met ‘n fondsinsameling vir Karlien kan ‘n “colour-run” gaan bywoon.
Die geleentheid vind by die AGS Kerk, Brakpan-Wes plaas te Witpoortjieweg 122. Kostes beloop R50 per persoon om deel te neem.
Belangstellendes word versoek om vandag (Vrydag) vir Karen te kontak by 074 963 8955.
Die hekke sal om 9:00 open.




