Local newsNews

Vrou onthou angsnag soos gister

Kathleen van Wyk en die kinders ondergaan steeds berading na die traumatiese voorval wat hul lewens onherropelik verhander het.

Dit was Sondag (14 Augustus) presies ‘n jaar gelede dat Kathleen van Wyk (36) meegedeel is dat haar verloofde, Gerald van Jaarsveld (32) in die hospitaal gesterf het aan skietwonde wat hy opgedoen het in ‘n poging om sy gesin te beskerm.

Die gesin is verlede jaar, 16 dae voor Gerald se afsterwe, in hul huis in Brakpan-Noord deur drie rowers oorval.
Gerald is een keer in die maag en verskeie kere in die regterbeen geskiet.

Sy mooi donkerkop verloofde is self sekondes tevore deur een van die drie rowers, wat hul huis in die nag binne gesluip het, in die maag geskiet.


LEES OOK: Ms Deaf South Africa enters world stage


Die voorval het die gemeenskap geruk en mense het aanhou hoop en bid dat Gerald sou oorleef.

Kathleen, wat goed herstel het van haar besering, is na Gerald se dood agtergelaat om die stukke op te tel en na hulle ses kinders (tussen die ouderdom van vier en 17) om te sien.

Kathleen het dié week aan die Herald vertel hoe sy steeds probeer om alles te verwerk en voort te gaan met haar lewe.

“Ek kan nie glo dat ‘n jaar reeds verby is nie. Soms voel dit soos gister en soms voel dit soos ‘n ewigheid.

“Alles in my lewe het verander na Gerald se dood. Alles wat ek en my kinders geken het as normaal was ewe skielik nie meer normaal nie en ons moes gewoond raak aan ‘n nuwe normaal.

“Ek moes vinnig leer om ‘n ma en ‘n pa te wees en somtyds gaan dit maar rof.

Kathleen vertel dat sy volkome herstel het van die skietwond, wat sy opgedoen het, alhoewel sy met lae rugpyn sukkel en permanent op medikasie daarvoor is.

Op ‘n vraag oor hoe sy die stukke van haar lewe optel, antwoord sy dat dit bitter moeilik is.

“Soms is dit moeilik om op te staan en net die dag aan te pak. Soms voel dit of ek in ‘n donker gat gegooi is.

“Ek moet eerlik wees en sê dat die kinders my motiveer om aan die gang te bly en vorentoe te kyk. Hulle het my nodig en ek moet daar wees vir hulle.

“My lewe het vir 12 jaar om Gerald gedraai. Ek en hy was ‘n span. Ons was saam daar vir ons kinders en toe is hy ewe skielik nie meer daar nie,” vertel Kathleen.


LEES OOK: Over R300k raised for fighting abuse


Die nag van die voorval sal haar altyd by bly. Kathleen vertel dat sy die prentjie van ‘n erg beseerde en bloeiende Gerald in hul kombuis nie uit haar kop kan kry nie.

Sy en die kinders ondergaan steeds berading. Kathleen hoop dat geregtigheid eendag sal geskied en dat die skuldiges tog eendag aan die pen sal ry.

Indien ek ooit daardie mense in die oë moet kyk sal ek vir hulle wou vra waarom dit nodig was om te skiet.

“Ek is ‘n vrou, ek het geen weerstand gebied nie, tog het hulle my geskiet.

“En dit was juis daardie aksie wat veroorsaak het dat Gerald alles in sy vermoë gedoen het om my te probeer beskerm.

“Hy het my met sy lewe beskerm en daarvoor geboet.

“Ek wonder soms of daardie mense harte het. Hoe kan hulle gaan slaap in die aand, wetend dat hulle die pa van ‘n baie gelukkig gesin weggeruk het?”

Die polisieondersoek na die voorval duur steeds voort.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button