Michael Janse van Rensburg (56) is tans die GPF se ondervoorsitter van sektor een. Hy woon saam met sy vrou Michelle (53), twee dogters Carlien (32) en Melinda (27), skoonseun Darius (36) en kleinseun Quegan (7) in Brakpan-Noord.
• Wanneer het jy by die GPF aangesluit?
Op 16 Julie, 2021.
• Wat het jou laat besluit om betrokke te raak?
Vandat ek ‘n skoonseun bygekry het, het ek meer dinge saam met hom begin doen. Darius het ‘n groot passie om te help in die gemeenskap. Ek het saam met hom gegaan waar iemand hulp op ‘n toneel nodig gehad het.
Ons het vir Tinus Jordaan ontmoet, waarop hy vir ons meer inligting gegee het oor die GPF en ons het dadelik werk gemaak daarvan om betrokke te raak om ‘n verskil in die gemeenskap te maak.
• Wat behels jou pligte as lid van die GPF?
As deel van Sektor Een se bestuurspan woon ek verskeie vergaderings by, verleen bystand met verskillende gebeure, doen patrollering in die dorp en indien moontlik help ons met spesiale gebeure waar die SAPD ons hulp nodig het.
• Wat sou jy sê is die oplossing vir die misdaadprobleem in Suid-Afrika?
Die publiek en gemeenskap groepe sal moet saam staan. Die een moet nie dink dat hulle beter is as die ander nie. Die SAPD het die samewerking en ondersteuning van die publiek nodig.
• Waarom is dit belangrik dat daar ’n goed funksionerende GPF in die dorp is?
Omdat die GPF onder die SAPD se grondwet val is dit belangrik. Ons kan die oë en die ore vir die polisie wees. Ons kan die gemeenskap bystaan totdat die SAPD op die toneel kom. Soms is daar minder ernstige voorvalle wat ons self kan hanteer, sonder om die polisie onnodige te ontbied.
Ons as gemeenskap kan nie verwag dat polisie tyd by elke geringe voorval in die dorp tyd moet afstaan nie. Soms is hulle by ernstige tonele, wat hulle nie bloot net kan verlaat om na die volgende een te gaan nie, want daar is ‘n prosedure wat hul moet volg. Dit is juis dan wanner ons as GPF kan uithelp en met ‘n goeie span kan ons samewerking bewerkstellig.
• Beskryf jouself in vier woorde.
Lojaal, spontaan, ondersteunend en reguit.
• Wat geniet jy om in jou vrye tyd te doen?
Om tyd saam my gesin te spandeer. Ek hou ook van kamp en visvang.
• As jy enige plek in die wêreld kon aftree, waar sou dit wees en hoekom?
Dit sal in Suid Afrika wees. Dit is hier wat jy alles in een kry. Plesier, braaivleis en sonskyn.
• As jy een gereg moet eet vir die res van jou lewe, wat sou dit wees?
Pap en vleis met ‘n tamatie en uie sous.



