11-Jarige woeker met talente
Trinity se grootste droom is om eendag aan die Olimpiese Spele te kan deelneem.
Aan Trinity Henning van Sunair Park se sport en kultuur talente is daar geen perke nie.
Die talentvolle 11-jarige van Laerskool Dalview beskou haarself as ‘n trotse Dalwer wat tans verskeie sportsoorte beoefen.
Tussendeur talle buitemuurse aktiwiteite maak sy ook tyd vir atletiek, swem, netbal, hokkie en toneel.
Trinity het onlangs skoonskip by die Dell’Arte Kunstefees gemaak.
Sy het aan ‘n totaal van 15 items deelgeneem waarvan sy die itemwenner van drie van haar items was. Sy het vir 12 van die items bo 90% ontvang.
“Dit was baie lekker om goeie punte te ontvang en dit gee jou weer moed vir die volgende item,” het Trinity vertel.
Sy het op sewe-jarige ouderdom met kunswedstryd begin en toe reeds erekleure vir kultuur ontvang. Haar ma, Lucelle vertel dat Trinity in haar eie wêreld is wanneer sy op die verhoog is.
“Ek is baie trots op haar want ek weet hoeveel harde werk sy daarin sit,” het Lucelle aan die Herald gesê.
Trinity is net so gemaklik op die sportveld en het onlangs by die Cross Country se Gauteng Kampioenskappe gekwalifiseer om na die Cross Country Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deel te neem, wat op 17 September in Rustenburg sal plaasvind.
Sy doen ook al vir ‘n geruime tyd laser hardloop. Dit behels dat sy op ‘n teiken skiet en wanneer die teiken vyf keer in 50 sekondes raak geskiet is, moet sy 400m hardloop en hierdie proses drie keer herhaal.
Sy is ook die enigste junior wat vir die Laser Hardloop Wêreldkampioenskappe gekwalifiseer het, wat later vanjaar in Portugal sal plaasvind.
LEES OOK: Dalwers presteer op verskeie vlakke
Trinity was ook vroeër vanjaar in die Kaap om aan die Biathle en Triathle Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deel te neem.
Hier het sy 19de plek in Biathle verower en negende plek in Triathle. Sy vertel dat sy nie tussen haar sport en kultuur kan kies nie.
“Ek is baie lief vir beide en ek geniet dit op verskillende vlakke.”
Sy behoort tans aan Irun Athletic Klub in Brakpan en oefen ook elke middag by Dalview se sportgronde.
LEES OOK: Die Anker wen krieketwedstryd met 698 lopies
Tussen haar drama, kultuur en sport spog sy ook met erekleure en ‘n loerie toekenning vir akademie.
“Mamma sê altyd sport gaan my nie deur die skool help nie, so ek moet hard leer al is sport baie lekkerder as om te leer.
“Ek sal graag eendag ‘n professionele atleet wil wees. My groot droom is om aan die Olimpiese Spele deel te neem.”
Haar ma het gesê, “Dit is beslis ‘n uitdaging om by alles te kom, maar ons as ouers kan net ons Hemelse Vader dank vir al Trinity se talente,”




