Slegte strook pad veroorsaak groot kopseer
Wykraadslid Anette Verster, het belowe om druk te plaas op Sasol om 'n verslag in te dien sodat kontrakteurs hestelwerk kan begin.

‘n Gedeelte van Dirk van der Hoffstraat in Rand Collieries sorg vir ‘n groot kopseer vir motoriste en veral vir inwoners, wat in die omgewing woon.
‘n Stuk van die pad is besig om te verbrokkel en groot slaggate het ook in die pad gevorm.
Die gateis vol water, wanneer dit reën, wat bydra tot die verbrokkeling en slegte toestand van die stuk pad, wat redelik baie verkeer dra.
Verskeie inwoners van die straat het die Herald genader en hul misnoeë uitgespreek, aangesien die ongelyke padoppervlakte ‘n gevaar vir motoriste inhou en skade aan voertuie veroorsaak.

Die agteruitgang van die stuk pad is al vir ‘n geruime tyd ‘n steen des aanstoots vir die inwoners en motoriste.
Die Herald het die Stad van Ekurhuleni genader vir kommentaar oor die toestand van die pad, maar teen druktyd is geen kommentaar deurgegee nie.
Die DA wykraadslid, Anette Verster het tydens die GPF sektor vergadering, wat Maandagaand plaasgevind het, verduidelik dat die oponthoud deur Sasol veroorsaak word.
Volens haar strek die beskadigde deel van die pad oor ‘n gaslyn wat aan Sasol behoort.
LEES OOK: Sewage woes for Springs residents
Dit beteken dat die kontrakteurs ‘n verslag van Sasol moet bekom oor die presiese ligging van die gaslyn, sodat dit nie beskadig word wanneer herstelwerk aan die pad gedoen word nie.
Volgens Verster het Sasol nog nie hierdie evaluasie gedoen en verslag voorgelê nie, wat tot gevolg het dat die kontrakteurs nog nie die strook pad kan regmaak nie.
Verster het aangedui dat sy meer druk op die maatskappy sal plaas om die proses aan die gang te kry.
In die tussentyd word motoriste, wat gereëld van Dirk van der Hoffstraat gebruik maak, gemaan om stadig te ry en versigtig te wees om skade en ongelukke te verminder.