Tutela reik uit na behoeftiges
Tutela Gesinsorg se winter-projek het vanjaar weer verligting vir vele mense gebring.

Meer as 180 behoeftige persone het Saterdagoggend ‘n lang ry gevorm voor die perseel van Tutela Gesinsorg.
Die organisasie, wat reg deur die jaar uitreik na behoeftige mense in die gemeenskap, het elke jaar gedurende die winter ‘n spesiale projek waar behoeftiges gehelp word.
“Dit gaan swaar met baie mense en die koue winter maande vererger net die nood,” het ‘n woordvoerder van die organisasie gesê.
Die mense, wat bejaardes en kinders ingesluit het, is geïdentifiseer om op die oggend skenkings van Tutela te ontvang.

‘n Groep vrywilligers asook personeel van Tutela het onder andere komberse, warm klere, skoene, en mieliemeel uitgedeel.
Vir die kinders was daar ook speelgoed en elke persoon het ook weggestap met ‘n lekker koppie warm sop en brood.
“Ons het groot lof en dankbaarheid teenoor elke persoon wat ‘n bydrae gelewer het sodat ons winter-projek kon realiseer,” het die woordvoerder gesê
“Ons moet die NG Kerk, Dalpark en die ATKV Ambrosia-tak uitsonder vir hul bydraes. Die gemeenskap maak ons hande sterk om uit te ryk na die behoeftiges in ons dorp,” het die woordvoerder gesê.