Post Office Haarkappers se eienaar kyk terug op 55 jaar
Die winkel en sy eienaar is 'n gevestigde deël van Brakpan en sy geskiedenis.
Die Post Office Haarkappers in Voortrekkerweg is een van die oudste haarkappers in die dorp en derduisende mans, sowel as vroue, het al oor die drumpel gestap om hul hare te laat sny.
Johnny Moutzouris (77) besit die besigheid al vir 55 jaar en is self ‘n legende van die dorp.
Voortrekkerweg 724 is ‘n baie bekende perseel, waar selfs die eerste eienaar en redakteur van die Brakpan Herald, Edward Wallace, na bewering in sy later jare hare gaan sny het.
“Ek ken omtrent alles van die geskiedenis van die dorp. Ek het kliënte wat al vanaf die ouderdom van 12 jaar by my hare sny en hulle is nou al 60,” het Johnny vertel.

Johnny het sy opleiding in Griekeland gekry, waar hy saam met sy broer hare gesny het vir 12 jaar.
Op die ouderdom van 16 het hy ongeveer R20 ‘n maand verdien. Toe hy 22 jaar geword het, het hy na Suid- Afrika gekom om hier sy eie salon te open.
Johnny herroep hoe sy eerste kliënte hom geleer het om die “boeremeneer”-taal (Afrikaans) te praat sodat hy meer kliënte kon kry. Vandag praat hy vlot Afrikaans.
“Ek is so lief vir die werk, die dokters het al vir my gesê dat ek moet aftree, maar ek kan nie. Ek sal werk tot die bitter einde,” het hy gesê.
Alhoewel hy gedurende verlede November probleme met sy bene gehad het, het hy aanhou oefen sodat hy kon terugkeer na sy werk.
LEES OOK: Brief: Hekmotor verdwyn gedurende kragonderbreking
“My kliënte is nie net kliënte nie, hulle is familie.”
Noemenswaardig is dat Post Office Haarkappers in al sy bestaansjare net 19 haarkappers gehad, met van hulle, wat tot 32 jaar diens agter hul naam het.
Johnny was wel nie al die pad ‘n haarkapper nie. Hy het vir ‘n kort rukkie rolspel vir advertensies gedoen en ‘n Old Mutual prys daarvoor ontvang.
Deesdae hou hy homself besig met sy besigheid.
‘n Plakkaat, wat hy onlangs van ‘n jong kliënt af ontvang het, wat hou van hoe Johnny sy hare sny, is vir hom baie kosbaar en spesiaal.




