Honde wat bed oorneem red dalk eienaar se lewe
Daar was geen bohaai of alarms in die omgewing om enigsins aan te dui waar die skoot moontlik vandaan kon kom nie.
‘n Inwoner van Dalview was onlangs heeltemal uit die veld geslaan toe sy in in die vroeë oggendure deur ‘n dwaalkoeël getref is, waar sy in haar bed gelê en slaap het.
Maria van Eeden (48) het om 02:12 die oggend wakker geskrik van ‘n brandpyn aan haar boud. Sy het omtrent 10 minute tevore badkamer toe gegaan en weer terug in die bed geklim voordat sy weer ingesluimer het.
Maria het gevoel aan die plek waar die brandpyn vandaan kom en agter gekom dat haar hand nat is. Dit het haar genoop om die lig aan te skakel, waarna sy gesien het dat daar bloed aan haar hand is.
Sy het daarna die bed bekyk om vas te stel waar die bloed vandaan kom. Dit is toé dat sy iets blink op haar kussing gewaar en by nadere ondersoek besef het dat dit ‘n koeël is.

Haar honde, wat saam met haar op die bed slaap en gewoonlik op en wakker is, het eers wakker geword toe sy opstaan.
Maria het opgekyk om te sien waar die koeël vandaan kom en toe ‘n gat in die plafon gewaar.
“Ek het vir ‘n oomblik gedink daar is iemand op my dak en het toe my verhuurder gebel om te vra of daar iets aangaan,” het Maria vertel.
Nie die verhuurder of die bure het enige iets ongewoon gehoor of opgemerk nie. Daar was geen bohaai of alarms in die omgewing om enigsins aan te dui waar die skoot moontlik vandaan kon kom nie.

‘n Sekuriteitsmaatskappy wat geskakel is, het ook geen kennis gedra van ‘n skoot of skote wat afgevuur is nie.
Maria vertel dat sy baie dank verskuldig is aan haar honde wat saam met haar op die bed slaap.
“As dit nie vir die honde was nie sou daardie koeël my moontlik in die kop getref het,” het Maria gesê.
Haar drie honde, Maximus, Alvin en Lilo, het helfte van die bed oorgeneem, wat veroorsaak het dat Maria dwars oor haar bed moes lê, in plaas daarvan om met met haar kop op die kussing te lê.
Hierdie bedorwe brakkies het dalk onwetend en heel moontlik hul eienaar se lewe gered. Maria het Maandag vir die eerste keer weer op haar eie bed geslaap, oor die vrees dat so iets weer kan gebeur.
Ziaan Bekker, ‘n Graad Agt leerder aan die Hoërskool Stoffberg, het verlede Donderdag ‘n afgevuurde koeël opgetel reg voor die hekke van die skool. Of dié ontdekking enigsins verband hou met Maria se nare ondervinding is nie bekend nie.
ALSO READ: Brief: Ondervinding by duikweg bly leser by
ALSO READ: Verslaentheid na jong rugbyspeler op Die Anker se rugbyveld sterf




