Local newsNews

Ma van drie sê sy gebruik nie kinders om te bedel

“Mense is maklik om hulle eie afleidings te maak, maar sonder dat hulle weet wat die hele verhaal is.”

’n 37-Jarige ma van Brenthurst is raadop en terselfdertyd woedend nadat sy uitgekryt is as ’n straatvrou wat haar drie dogters gebruik om op straat te bedel.

“Dít is baie vêr van die waarheid en daardie persoon het geen reg om in my lewe in te meng nie,” het die vrou gesê.

“Vir die afgelope jaar en ’n half verdien ek ekstra geld op ’n baie eerlike manier en die mense wat die lewe vir my probeer bemoeilik sal my nie onderkry nie,” het die vrou in ’n onderhoud met die Herald gesê.

Die vrou het versoek dat haar naam asook die name van haar dogters wat sewe, 13 en 15 jaar oud is, nie gepubliseer moet word nie. Sy verkoop sekere dae van die week en oor naweke koekies, wat sy self bak, by ‘n besige supermark in Brenthurst.

“My man is ’n lang afstand vragmotorbestuurder en om ons inkomste aan te vul bak en verkoop ek die koekies,” het sy gesê.

“Ek het nog nooit vir iemand vir een sent geld gevra nie, ek is nie ‘n straatvrou nie en my kinders bedel ook nie.”

Die vrou sit in die middae en oor naweke by die winkel en het altyd haar drie kinders by haar.

“Ek kan nie my dogters alleen by die huis los nie, dit voel net nie vir my reg nie. Hulle sit by my in gewone drag; nie hulle skooldrag nie.

“Somtyds sal hulle sit en hul huiswerk doen of hulle bring vir hulle iets saam om hul mee besig te hou. Geeneen van hulle het al ooit vir enigiemand gevra vir geld nie.


LEES OOK: Weekend crime round-up


“Ongelukkig is daar iemand wat nie die son oor ek en my gesin wil sien skyn nie en dié persoon het die laerskool, waar twee van my kinders skool gaan, gekontak en blykbaar vertel dat ek my kinders gebruik om te bedel.

“Die skool is bewus van my situasie en ek het nie ’n probleem met die skool nie, maar wel met die persoon wat die skool gebel het en blykbaar aangedui het dat ek soos ’n straatvrou bedel met my kinders.

“My kinders sit nie in hul skoolklere en as hulle daar wil sit en huiswerk doen, is dit ook niemand se saak nie. Dit is na ure en my kinders doen dit uit vrye wil.”

Die kinders wat ten tye van die onderhoud teenwoordig was, het hul ma ten volle ondersteun en beaam dat hulle nie omgee om op sekere dae vir twee of drie ure by hulle ma te sit nie.


LEES OOK: New committee for Brakpan SPCA


“Ek bak in die oggende en verkoop in die middae aangesien daar dan baie meer mense is wat hul inkopies doen. Dit is in die oggende maar stil by die winkel.

“Wanneer dit koud is, het my kinders ’n kombers, wanneer hulle die toilet moet gebruik stap ek saam met hulle na ons woonplek, wat naby geleë is.

“My kinders is versorg en ek sit daar om daardie koekies teen R20 ’n pakkie te verkoop om ’n ekstra inkomste te verdien sodat ek vir my kinders meer kan bied.

“My man is, weens die aard van sy werk nie baie by die huis nie, maar wanneer hy wel tuis is spandeer ons tyd saam as ’n gesin.”


LEES OOK: Driver hijacked after stopping to urinate


Die vrou het bygevoeg dat die laerskool waar haar kinders skool gaan aangebied het om die twee van die kinders in die naskool te akkommodeer.

“Maar dan het ek nog steeds my oudste kind by my en dit sal seker ook nie goed genoeg wees vir dié persoon of persone wat verkies om my te verkla by my kinders se skool nie.

“Ek verkoop al vir ’n haar en ’n half my koekies. Somtyds sal mense vir my ’n ekstra geldjie gee of die koekies koop en dit weer terug skenk. Dit is mos nie bedel nie.

“My kinders is my alles. Hulle is veilig by my en ek sal hulle nie alleen by die huis los nie.Mense is mak lik om hulle eie afleidings te maak, maar sonder dat hulle weet wat die volle verhaal is,” het die vrou gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button