Stoffie redenaar praat derde plek los by landsfinaal
Die kranige spreker is baie trots op haar mede-deelnemers, en dankbaar vir al haar ondersteuners.
Imvelo Ngubeni, ‘n matriekleerder aan die Hoërskool Stoffberg het op 13 Augustus aan die ATKV redenaars landsfinaal deelgeneem, en ‘n derde plek behaal.
Imvelo het nes Eleanor Maredi van Hoërskool die Anker aan die Graad 10 tot 12 Afrikaans eerste addisionele taal afdeling deelgeneem (Anker redenaar naaswenner in ATKV landfinaal, 28 Augustus).
Die is die tweede jaar wat Imvelo aan redenaars deelneem, en ook die tweede jaar wat sy onder die top vyf sprekers geëindig het. Sy was verlede jaar vierde.
Haar toespraak, ‘Die aanlyn leefstyl benodig ‘n digitale detox’ is deur Nadia Scrooby, wat haar ook afgerig het, geskryf. Sy vertel dat dit haar gunsteling toespraak tot op hede is. Imvelo glo om ‘n goeie redenaar te wees, moet jy glo waaroor jy praat.
LEES OOK: Anker redenaar naaswenner in ATKV landfinaal
“Jy moet seker maak dat jy saam met die inhoud van die toespraak stem, sodat dit natuurlik is wanneer jy dit aanbied,” het sy vertel.
“As ek saam stem met dit waaroor ek redeneer, word dit maklik om voor mense te praat en die beoordelaars hou van die natuurlike aanbieding.”
Imvelo se geheim is om net so 30 minute ‘n dag te werk aan haar toespraak, en net vir die week of twee voor haar deelname aan ‘n kompetisie.
“Wanneer jy te veel oefen raak jy soos ‘n robot, en oordink jy die toespraak. Dis wanneer jy woorde begin snaaks uitspreek of op jou senuwees raak,” het sy gesê.
LEES OOK: Dalwer langasems dring deur provinsiale byeenkoms
Dié kranige spreker wil graag ‘n neuroloog word, maar hou haar opsies oop vir ander mediese velde. Sy geniet fisiese wetenskappe en lewenswetenskappe, maar haar gunsteling vak is eintlik lewensoriëntering.
“Ek hou van my LO juffrou; sy gesels op ‘n volwasse vlak met ‘n mens oor dinge wat jy moet weet, en ons kan baie praat en debatteer in die klas,” verduidelik sy.
Sy is baie dankbaar vir al die ondersteuning van haar afrigter, familie, vriende, juffrou Hannelie Fourie wat haar aangemoedig het om aan redenaars deel te neem, Elize Steenkamp wat haar die hele pad bygestaan het en die ATKV vir die platform en geleentheid.
“Ek wil ook baie graag geluk sê vir die wenner, Mpumi Rakhudu, asook Eleanor Maredi. Hulle het baie goed gedoen en regtig hulle ‘game’ gebring,” het sy mee afgesluit.



