Local newsNewsSport

Hengel met respek, versorging van jou vangs is noodsaaklik

Die Verre Oos-Rand Henglkub moedig hengellaars aan om behoorlike vissorg toe te pas.

Een van die goue reëls van hengel is om altyd die welstand van jou vangs eerste te plaas en dit is wat van ‘n visserman van ‘n gesoute hengelaar skei.

Kobus van Zyl, sekretaris van die Verre Oos-Rand Hengelkub sê dat onkunde die grootste rede is waarom visse seerkry.

“As hengelaar is dit van kardinale belang dat jy die welstand van die vis wat jy teiken, in ag neem,” is Van Zyl se kundige raad.

“Tydens ons Januarie-kompetisie was dit hartseer om te sien dat een van die Modderbekke wat ons gevang het, in ‘n hounet verstrengel was.

“Die vis het reg rondom sy lyf snymerke gehad soos die net dit gesny het. Die probleem met die nette is dat visse van alle groottes daarin verstrengel raak en uiteindelik kan vrek,” het Kobus gesê.

“Visse kan ook seerkry wanneer hulle uit die hengelaar se hand val, die stof is ook skadelik vir hulle kieue.”

Die algemene karp se lyf bestaan uit baie fyn beentjies (grate) wat beteken dat die vis maklik seer kan kry indien dit uit die hengelaar se hande val.

“‘n Val kan ook baie maklik die vis se organe beskadig. Ek stel voor dat indien die hengelaar ‘n foto van sy vis wil hê, hy/sy eerder op hul hurke moet gaan.

“Indien die vis dan per ongeluk spring, val dit nie te hard of ver nie. ’n Mens moet ook onder geen omstandighede jou vingers in die vis se mond steek of dit aan die kieue optel nie,” sê Kobus.

Hy moedig hengelaars aan om behoorlike vissorg toe te pas en liewer nie babers in hounette aan te hou nie.

Volgens hom is dit ook belangrik om die hounet diep genoeg in die water te plaas sodat die vis ten volle met water bedek is.

“Rubber- en materiaalnette moet eerder gebruik word aangesien draadnette die vis kan beseer.”

Met 36 jaar se kompeterende hengel agter die blad, gee Kobus die volgende vissorg wenke:

• Moet nie die vis uitsleep nie. Dit kan veroorsaak dat die hoek uitskeur en die vis se bek beskadig.

• Moet nie die vis uit die water optel met die lyn sodat die vis in die lug hang nie.

• Gebruik ‘n skepnet om die vis te skep, hoe dieper jy kan skep, hoe beter.

• Maak gebruik van ‘n skerpbektangetjie om die hoek te verwyder.

• Moet nie visse te lank buite die water hou nie.

• Wanneer ons visse hanteer, beskadig ons ook die slymlagie op die visse en daarom is dit noodsaaklik om heeltyd die vis nat te hou met water.

“Dit is tog elke hengelaar se droom om eendag sy persoonlike beste te vang maar dit kan net gebeur as ons mooi na ons visse kyk.

“Ek sal ook elke hengelaar aanraai om ‘n vissorgstelletjie aan te hou en enige seerplekke eers te behandel voordat die vis teruggeplaas word.”

Lees ook: Katrolle sing by hengelklub kompetisie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button