Hoërskool Die Anker hoofseun balanseer skool en vliegopleiding met ywer
Om sy pligte as hoofseun en sy deeltydse studies by die vliegskool te handhaaf verg dissipline en balans.
Karlu Stander (18) die hoofseun van Hoërskool Die Anker is tans besig om sy passie vir lugvaart na nuwe hoogtes te neem.
Hy het van jongs af ‘n liefde vir vliegtuie gekoester, en nou, as ‘n deeltydse student by Airborne Aviation Vliegskool in Brakpan, werk hy hard om sy droom van vlieg te verwesenlik.
Met toewyding en vasberadenheid balanseer Karlu sy akademiese verantwoordelikhede met praktiese vlieg opleiding, wat hom ‘n stap nader bring aan ‘n loopbaan in die lugvaartbedryf.
Karlu was van kleins af versot op vliegtuie en het vertel hy het vliegtuig beddegoed gehad en sy kamer versier was met alles wat met lugvaart te doen het.
“Ek het van jongs af geweet ek wil eendag in die lug wees en is geïnspireer deur Scully Levin, ʼn Suid-Afrikaanse lugvaart legende. Sy verhaal van dissipline en passie het my altyd gemotiveer,” het Karlu vertel.

Om sy pligte as hoofseun en sy deeltydse studies by die vliegskool te handhaaf verg dissipline en balans.
“Ek moes leer om leiding te neem sonder om my mede leerlinge te vervreem of my deeltydse vlieglesse af te skeep.
“Een van my grootste suksesse was om ʼn kultuur van samewerking en respek tussen leiers en leerlinge te help vestig, veral met spanprojekte en welwillendheid projekte.
“Met leiers en leerders wat mekaar ondersteun, maak dit die druk op my as hoofseun effens ligter,” het Karlu gesê.
Hy het bygevoeg dat besluitneming onder druk, aanpasbaarheid, selfdissiplinne en duidelike kommunikasie van kardinale belang is in beide rolle.
LEES OOK: Dalpark 1 inwoners bring hulde aan Bart Zaayman
Dit vereis dat jy kalm bly in stresvolle situasies en dat jy altyd die groter prentjie raaksien.
Karlu se fokus is tans op die voltooing van matriek, en hy beplan om volgende jaar voltyds aan te sluit by die vliegskool om sy private pilot licence (PPL) te voltooi en dan voort te gaan met sy commercial pilot licence (CPL).
“Ek streef daarna om ʼn kommersiële vlieënier te wees. Dit is vir my die perfekte kombinasie van avontuur en verantwoordelikheid,” het Karlu gesê.
Hy sien uit na die vryheid van die lug en die verantwoordelikheid om mense veilig te vervoer. Die uitdagendste deel volgens hom sal waarskynlik wees om konstant op sy beste te presteer, selfs onder druk.
Oor 10 jaar sien Karlu homself as ʼn kaptein by ʼn groot lugredery.
“Ek beplan om leierskap aan te wend deur ander jong vlieëniers te mentor en veiligheid en spanwerk in die lugvaartbedryf te bevorder,” het Karlu vertel.
Hy is gevra wat hom gemotiveerd hou en het geantwoord: “Ek onthou altyd hoekom ek begin het. Wanneer ek moeg raak, dink ek aan die einddoel, die dag wanneer ek eendag my vleuels gaan ontvang.
“Ek sien terugslae as geleenthede om te leer. Ek reflekteer, pas aan en probeer weer want volharding is alles,” het Karlu afgesluit.
Hy het ook sy boodskap aan jong leerders gedeel: “Bly nederig, laat jou Hemelse Vader jou lei.
“Moenie wag vir iemand om jou die pad te wys nie, begin nou. Wees gedissiplineerd en hou jou oë op jou doel.”
LEES OOK: Worthy Ministry brings warmth to the homeless in Brakpan



