Brakpan se eerstes en tweedes triomfeer oor NWU
Na sterk vertoning teen NWU hoop die klub op groot bywoning vir komende tuiswedstryd.
Die Brakpan Rugbyklub het Saterdag teen NWU in die Valke Peregrine-liga te staan gekom, met die eerste- en tweede span wat oorwinnings aangeteken het.
Die o21-span het egter met 17-10 verloor nadat albei helftes verkort is tot slegs 25 minute. Volgens ’n woordvoerder van die klub het Brakpan se bus by die eerste tolhek onklaar geraak, en van daar af het dinge skeefgeloop, wat daartoe gelei het dat die speeltye aangepas moes word.
Die tweede span was met rustyd gelykop op vyf elk, maar het in die tweede helfte doelgerig gespeel en uiteindelik met 17-14 gewen. Die eerstes het ’n goeie dag op die veld beleef en reeds teen rustyd met 17-14 voorgeloop.
In die tweede helfte het hulle die krane behoorlik oopgedraai en met 41-27 geseëvier. Brakpan se drieë is deur Louis de Bruyn, Henry Pike, Jackie Jonkers, Ruben Beytell, Xander Marais en Brandon Swart (2) gedruk.

Henry Pike het een doelskop oorgeskop, terwyl Ruben Beytell twee suksesvol deur die pale gestuur het. Brakpan speel op Saterdag, 19 Julie, tuis teen Vereeniging.
Die o21-wedstryd begin om 13:00, die tweede span skop af om 14:40, en die eerstes draf om 16:00 op die veld. Toegang beloop R20 per persoon en R20 per voertuig. Geen koelerbokse word toegelaat nie.
“Ons nooi ons ondersteuners en die publiek uit om ’n dag van aanskoulike rugby te kom geniet. Die spelers bring week na week hul kant, en die ondersteuning van die publiek dra hulle,” het die klubvoorsitter, Frikkie Bosman, gesê.
LEES OOK: Brakpan tiener behaal groot prestasies in rugby
LEES OOK: All ages and abilities welcome at Wheelie Warriors Race Day





