Brakpan dring deur na semi-finaal van die Peregrine Liga
Brakpan Rugbyklub het opnuut gewys hulle is ‘n span om mee rekening te hou nadat hulle Saterdag al drie wedstryde teen Springs gewen het. Nou wag die semi-finale op eie bodem.
Brakpan Rugbyklub het Saterdag ’n algehele segetog behaal in hul kragmeting teen Springs in die Peregrine Liga, wat nou op sy seisoensafsluiting afstuur.
Die klub se eerste, tweede én o.21-span het elkeen hul wedstryde gewen, en die fokus verskuif nou na die halfeindstryd wat dié komende Saterdag op hul tuisveld, Bosman Stadion, beslis sal word.
Brakpan se eerste span het hul wedstryd oortuigende met 42–19 gewen. By rustyd was dit nog ’n noue stryd met Brakpan wat 14–12 voorgeloop het, maar in die tweede helfte het hulle behoorlik die krane oopgedraai.
Die puntemakers was Ruben Beytell, Xander Marais, Henry Pike en Keanu Thomas, wat elk ’n drie gedruk het. Brandon Swart het twee keer agter die doellyn gaan kuier. Ruben Beytell het vier doelskoppe suksesvol afgerond, terwyl Henry Pike nog twee deur die pale gejaag het.
Jonathan Redelinghuys is as speler van die wedstryd aangewys vir sy uitmuntende spel. Die tweede span het met 31–10 geseëvier, met Brandon Els wat as speler van die wedstryd uitgeblink het.

Die o.21-span het hul wedstryd met 31–22 gewen, en Luan van Tonder het met die speler van die wedstryd-toekenning weggestap.
Brakpan se eerste span sal Saterdag weer teen Springs te staan kom in die semi-finaal van die Peregrine Liga. Die tweede span pak NWU, terwyl die o.21’s teen Vereeniging uitdraf. Al die wedstryde word op Brakpan se tuisveld, Bosman Stadion, gespeel.
“Ons spelers en afrigters het ongelooflik hard gewerk om tot hier te kom, en ons sien uit na die semi-finaal,” het Frikkie Bosman, voorsitter van die Brakpan Rugbyklub, gesê.
“Ons ondersteuners het ons nog nooit in die steek gelaat nie, en ons hoop om Saterdag ’n volgepakte paviljoen te sien.”
Toegang beloop R20 per persoon en R20 per voertuig.
LEES OOK: Nigel sit goeie stryd op teen Brakpan maar verloor steeds
LEES OOK: Full fight card announced for PFL Africa at Carnival City







