Bedelende en verwaarloosde jeug is rede tot kommer
’n Bevoorregte ma deel haar hartseer waarnemings oor jong mense wat verwaarloos word en op straat beland, en vra waar hul beskermers is
Bevoorregte ma skryf per e-pos:
Wat gebeur met ons jong mense van vandag? Ek ry nogal gereeld deur die dorp, aangesien ek een kind op hoërskool en twee op laerskool het.
Ek sien dikwels hoe jong mense in groepies uithang en beslis besig is met aktiwiteite wat nie aanvaarbaar is nie. Verlede week het ek in Goodslaan gery en ‘n jong meisie, met kort donker hare, tussen die bosse en rommel naby die treinspoor opgemerk.
Sy was besig om aan te trek in die teenwoordigheid van twee jonger mans. ‘n Mens hoef seker net twee en twee bymekaar te sit om ‘n antwoord te kry.
Daardie meisie was niks ouer as 16 jaar nie. Sy was onversorg en is seker iemand wat op straat bly, soos soveel ander jong mense in die dorp.
Ek oordeel glad nie, inteendeel, ek het regtig jammer gevoel vir haar. Waar is haar ouers wat haar moet opvoed en beskerm?
Daardie middag het ek na my twee meisiekinders en seun gekyk. Ek was dankbaar vir my kinders en vir die feit dat ek en my man daar is om hulle ouers te wees en hulle te beskerm teen die boosheid daar buite.
Dit is net opvallend dat daar meer en meer mense bedel en op straat bly, en baie van hulle is jong mense. My hart gaan uit na hulle.
Ek weet sommige is net te sleg om iets van hulle lewe te maak, maar ek glo daar is ander wat nie in daardie omstandighede wil wees nie en bloot net nie ‘n ondersteuningsnetwerk het nie.
LEES OOK: Motivational speakers encourage women in blue for Women‘s Day
LEES OOK: Local youth leader racks up global awards and nominations



