Brakpan Rugbyklub kwalifiseer vir Gold Cup 2025 en open teen Raiders
Met hul eerste kragmeting teen die Raiders van die Lions Rugbyunie op 27 September in Johannesburg, sien die span en hul ondersteuners uit na ’n nuwe hoofstuk in die klub se trotse geskiedenis.
Die Brakpan-rugbyklub het amptelik gekwalifiseer vir die Gold Cup-reeks, Suid-Afrika se voorste klubrugbykompetisie.
Die eerste wedstryd is ’n uitkloprondte teen die Raiders-rugbyklub van die Lions Rugbyunie en word op 27 September gespeel.
Dit is ’n wegwedstryd wat op die Bill Jardine-stadion in Johannesburg gespeel sal word. Frikkie Bosman, voorsitter van die Brakpan-rugbyklub, het verduidelik dat net die eerstespanne in aksie sal wees.
“Die deelnemende spanne bestaan uit die top twee klubs van al die provinsies, plus die vorige jaar se kampioen, asook vier klubs wat as sogenaamde wildcards sal speel.
“Daar is dus 32 spanne wat in twee groepe verdeel word: 16 spanne in die Noord-streek en 16 spanne in die Suid-streek.”
Dit is egter nie Brakpan se eerste deelname aan die kompetisie nie. Brakpan het in 2012, 2013, 2014 en 2016 deelgeneem, toe dit nog as die Community Cup bekend gestaan het. Eers in 2016 is dit na die Gold Cup hernoem.
“Ons deelname vanjaar is ’n reuse-mylpaal vir ons klub, borge, spelers en ons gemeenskap. Daar word daagliks hard agter die skerms gewerk, en ons maak goeie vooruitgang,” het Bosman gesê.
LEES OOK: Dalpark Ext 11 family robbed of valuables and bank funds in armed attack
LEES OOK: Driver flees armed hijackers near traffic lights in Dalview



