Local newsNews

Roets-gesin dankbaar om tiende verjaarsdag sewe jaar ná ongeluk te vier

Vir Frikkie en Karin Roets was Karlien se tiende verjaarsdag meer as net ’n mylpaal, dit was ’n herinnering aan hoop, deursettingsvermoë en die krag van gemeenskapsondersteuning.

’n Tiende verjaarsdag is altyd ’n spesiale mylpaal, maar vir die Roets-gesin van Dalview het dit Maandag besondere betekenis gehad toe hulle hul kind Karlien se tiende verjaarsdag kon vier.

Ná ’n ongeluk sewe jaar gelede, waarin Karlien ernstige beserings opgedoen het, was hierdie dag vir haar ouers, Frikkie en Karin Roets, ’n oomblik van dankbaarheid en hoop.

“Ons is vandag bly dat ons kind vir ons gespaar is om hierdie mylpaal te vier, maar ons gebruik ook hierdie dag om vir elke persoon wat tot dusver die pad met ons gestap het, ’n groot dankie te sê,” het Karin gesê.

“Daar is geen manier dat ons dit op ons eie sou kon doen nie. Elke persoon wat die afgelope paar jaar ‘n bydrae, in watter vorm ook al gemaak het, het daartoe bygedra dat Karlientjie vandag haar tiende verjaarsdag kon beleef.”


Karlien Roets word 24-uur lank na omgesien deur haar familie en versorgers.

Karlien is in Augustus 2018 beseer toe ‘n kombuiskas in die gesin se huis in Dalview op haar geval het. Sy was toe drie jaar oud.

Ná ’n lang tyd in die hospitaal is sy ontslaan en het haar ouers die besluit geneem om alles in die stryd te werp om haar tuisversorging so intensief maar ook gemaklik as moontlik te maak.

Ongelukkig kom dit met ‘n duur prysetiket en moet die ouerpaar deurgaans fondsinsamelingsprojekte aanpak om te probeer byhou met die voltydse versorging van hul kind.

Karin het vertel dat Karlien tans steeds spraakterapie ontvang van ‘n nie-winsgewende organisasie.

“Die organisasie bied vir drie maande die terapie aan, waarna ons weer aansoek doen daarvoor,” het Karin verduidelik.

Een van die ouerpaar se grootste uitdagings is die maandelikse betaling van’n professionele verpleegkundige.

Karlien benodig nog steeds 24-uur sorg deur ’n professionele verpleegkundige, en die koste daarvoor alleen beloop R23 000 per maand.

“Ons probeer byhou, maar dit gaan maar moeilik. Voor ons ons oë uitvee, is ‘n maand verby en dan moet die betaling gedoen word.

“Dikwels het ons nog nie eens ’n volle maand betaal nie en dan word die nuwe rekening bygevoeg,” het Karin verduidelik.

Dit sluit ook nie al die ander uitgawes in nie, wat met Karlien se versorging gepaardgaan.


Karlien Roets saam met haar ouers Frikkie en Karin Roets asook haar sussie Nadine (7) en baba boetjie Andrich (twee maande).

“Ons hou steeds fondsinsamelsprojekte, maar dit is ook nie altyd moontlik om dit aanhoudend te doen nie,” het Karin verduidelik.

“Tog is ons dankbaar vir almal wat haar die afgelope sewe jaar ondersteun het. Elke persoon se bydrae maak dit moontlik dat haar versorgers by haar kan bly en dat ons vir haar op die beste na ons vermoë kan sorg.”

“Haar tiende verjaarsdag was vir ons baie spesiaal en mylpale soos hierdie gee vir ons weer moed. Ons het kersies uitgeblaas en vir haar gesing en gedans. Sy was voor die ongeluk baie lief om te dans,” het Karin gesê.

‘n Lys van benodighede wat veredere finansieële implikasies vir Karlien se ouers inhou verskyn op Karlien se Facebook-blad.

Dit sluit in:
Groot volwasse doeke (Softi by Dis-Chem of die Clicks-handelsmerk), Duratears Ointment, KY-jellie, Vitamien D-druppels, Vitamien B-stroop, Biostrath-stroop, probiotiese druppels (enige handelsmerk), Pedgicol, watte-blokkies of bolletjies, Vaseline, Albumax-proteïenpoeier, magnesiumstroop, handskoene (poeierloos, mediumgrootte), gaas, boudroom (enige handelsmerk), wetwipes en handreiniger (sanitiser).

Enigiemand wat hul weg oopsien om hulp te verleen deur finansiële bystand of skenkings van die bogenoemde items kan Karin kontak by 074 963 8955.


LEES OOK: Fund-raiser for Karlien Roets a success

LEES OOK: Valentynsdans ten bate van Karlien Roets


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Thelma Koorts

Thelma Koorts is an editor with a passion for delivering high-quality editorial services that meet the evolving needs of readers and clients. She currently serves as the editor for the Brakpan Herald, Springs Advertiser, African Reporter, and Heidelberg Nigel Heraut. With over 30 years of experience in journalism, her goal is to keep readers informed and updated through informative news from the community to the community.

Related Articles

Back to top button