Boogskutter van Sonneveld Akademie haal SA span
Van Schalk se mees trotse oomblikke in die sport is toe hy in sy eerste jaar van skiet vir die provinsiale span gekies is.
Schalk Burgers, ’n Graad 11 leerder by Sonneveld Akademie, is gekies om as deel van die Suid-Afrikaanse span deel te neem aan die AGA Wêreld Kampioenskappe in Augustus 2026 in Gaborone, Botswana.
Schalk het in Graad Vier begin boogskiet, en beoefen die sport nou al vir sewe jaar.
“By my laerskool pretdag was daar ’n oom wat teikenskiet aangebied het met soliede ‘paintballs’,” sê hy.
“Ek het ’n ooreenkoms met hom gemaak. As ek na elke ronde die balletjies optel sou hy my na elke vyfde kliënt ’n gratis ronde gee.
“Toe my ma kom kyk, het die oom vir haar gesê dat ek vir ’n Graad Vier seun baie goed kan korrel,” sê hy oor sy inspirasie om te begin skiet.

In sy kerk is daar ’n vrou wat wêreldkampioen is in boogskiet, en Schalk se ma het met haar gesels. Die vrou het voorgestel dat Schalk by haar kom probeer skiet.
“Toe ek my eerste bloedrooi boog vir die eerste keer vashou, het ek geweet dit is iets besonders. Ek was dadelik verlief op die sport,” sê hy.
Schalk oefen elke dag aan sy boogskiet, sodra hy van die skool af kom.
“Ek vat my boog en oefen sommer in my skoolklere. Daar is amper elke Saterdag ’n kompetisie, en ek oefen nie op Sondae nie, omdat ons die Sabbat heilig hou,” verduidelik hy.
Om te fokus wanneer Schalk mik verg baie dissipline.
“Dit is nie soos rugby waar alles lawaaierig is nie, hier is dit stil, en jy luister fyn vir elke fluitjie, want dit beteken ’n opdrag.”
Wanneer hy mik fokus hy net op sy boog, pyl en teiken.
“My gedagtes is rustig, albei oë is oop, asem in, asem uit en dan laat ek los. Ek laat sak my boog eers wanneer ek hoor hoe die pyl die teiken tref,” sê hy.
Na al die jare van skiet is kompetisies soos tweede natuur vir Schalk. Hy het al baie vriende regoor die land gemaak, wat hom tuis laat voel by kompetisies.
“Ons gesels lekker tussen rondes, maar wanneer die fluitjie blaas staan ons almal ‘toes behind the waiting line’ en fokus op ons taak,” sê hy.
Schalk se boog is op 20 pond gestel, (die hoeveelheid gewig wat nodig is om ’n boog ten volle te trek) wat die maksimum vir sy boog is. Met vyf pyle oor agt rondes, sê hy, werk ’n mens se arms ‘harde arbeid’.

Sy voorarms en boarmspier kry baie oefening, en Schalk het al deur die sport goeie armkrag opgebou.
“Na oefening gebruik ek my 10kg gewigte, en hou dit in dieselfde posisie as my boog vir ’n minuut, agt keer agtereenvolgend,” sê hy.
Van Schalk se mees trotse oomblikke in die sport is toe hy in sy eerste jaar van skiet vir die provinsiale span gekies is.
“Ek het Ekurhuleni elke jaar sedertdien by die nasionale kampioenskappe verteenwoordig,” sê hy.
Op 18 November het Wilhelm Greeff, die voorsitter van AGA Suid-Afrika, vir Schalk laat weet dat hy vir die 2026 Suid-Afrikaanse span gekies is.
“Ek is baie dankbaar en opgewonde om Suid-Afrika in Botswana in die junior span te verteenwoordig,” verduidelik Schalk.
LEES OOK: Brakpan Boxing Club bags 3 wins at Undisputed Boxing Academy tournament



