Sanger wil musiek maak wat stories vertel
Vir Ruan Kruger het 'n droom waargeword met die kans om sy musiek saam met ander groot name uit te gee.
Ruan Kruger (29), ‘n oud-leerder van Hoërskool die Anker, wat in Brakpan grootgeword het, skryf al van skooltyd af musiek en droom daarvan om sy passie in ’n loopbaan te omskep.
Alhoewel hy oor die afgelope 10 jaar in verskeie velde gewerk het, bly musiek sy grootste ambisie. Een van sy liedjies To the Goodbyes wat hy geskryf het oor ‘n tienerseun, Divann Lamprecht, wat oorlede is in Julie vanjaar, het Sunette Bridges se aandag getrek.
Sy het hom gevra om twee van haar Stormloop album liedjies op te neem en vry te stel, waarin ander groot kunstenaars ook deel is.
Hy het ook ’n distribusiekontrak van ‘n ander musiekagentskap in Suid-Afrika ontvang vir twee van sy oorspronklike snitte wat groot verwagtinge skep.
Ruan is gereed om nog 31 liedjies vry te stel wat hy self deur die jare geskryf het. Sy grootste inspirasie is Theuns Jordaan, omdat hy volgens Ruan ‘n opregte mens was.
“Wie hy was, is hy altyd gewees. Hy het nooit verander nie. Hy is ’n legende om na op te kyk,” het Ruan gesê.
By opvoerings sing hy altyd ‘n paar van Theuns se liedjies. Sy eie musiek is in dieselfde styl as Theuns sin geskryf is en vetel ’n storie.
Sy gunsteling liedjie is Sal Jy Bly, wat Ruan altyd saam met sy broers in die kar of op die stoep gesing het. Een van die groot hoogtepunte in Ruan se lewe was die geboorte van sy seun, Keanan (7).
“Ek sal altyd daar wees vir my kind; ek sien hom elke oomblik wanneer dit moontlik is en ek het ’n goeie verhouding met hom,” sê hy.
‘n Ander hoogtepunt was toe hy homself vir die eerste keer op televisie gesien het. Ruan het al rolle in 7de Laan, Binnelanders, Huisgenoot: Ware Lewensdramas en ‘n paar Netflix-reekse gehad.
“My eerste dialoog was net vier woorde, maar ek was so op my senuwees dat ek dit iets soos vyf keer verkeerd gehad het, maar dit was die moeite werd,” vertel Ruan.

Ruan is velede jaar gediagnoseer met klierkanker, wat hom ‘n groot terugslag gegee het, en daartoe gelei het dat hy in ‘n diep depressie verval het.
“Dit het gevoel of alles uitmekaar val totdat ek met Willie Olwage van die El Roi Teater gepraat het en by die gemeente aangesluit het. Nou is ek genees deur geloof,” verduidelik hy.
Die diagnose was vir hom ‘n groot laagtepunt, en Ruan het baie vrae gevra oor homself, soos ‘hoekom ek?’ maar danksy die ondersteuning van die mense in sy lewe kon hy positief bly.
Volgens Ruan is hy volkome genees deur gebed. Waar hy voorheen simptome gehad het soos pyn en floutes het hy nou geen simptome nie. Bestraling en kemo-terapie was nie eens nodig nie, sê hy.
“Ek gaan nog vir opvolgtoetse gaan, maar ek kan met sekerheid sê ek is genees. My musiek vertel daardie stories, oor persoonlike dinge wat met my gebeur het. Ek maak dit positief en opbouend, iets waarmee ander kan mee-identifiseer.”
LEES OOK: Brakpan crime stats 2025/26: Major drops in property crime but kidnappings spike
Ruan het ‘n paar Christelike liedjies, soos ’n Stil Gebed wat nog uitkom, en wat handel oor vrae wat ’n mens het maar nie antwoorde daarvoor het nie.
“Tog verstaan die Here jou hart,” sê hy.
Sy ander musiek is volgens hom net lekker Afrikaanse musiek, met liefdesliedjies en musiek oor hartebreek.
“Hopelik iets vir almal,” sê hy.
Van die liedjies wat hy reeds opgeneem het wat nog uitgegee gaan word is Iewers in Kaapstad, ook van Sunette Bridges, en oorspronklike liedjies Te Lief, en Waar is Jy?.
Iewers in die toekoms hoop Ruan om ‘n volledige album uit te gee. Hy sy eie CD-omhulsel ontwerp om homself te motiveer om daardie doel te bereik.
“Mense het gesê los die musiek, toe maak ek vir my ‘n CD om vir myself te sê dit is die doel,” sê hy.
Sy grootste ondersteuner is Ladi Lourens (59), wie hy ontmoet het saam met haar dogter, Lindi en Henry Allant. Lindi het Down se Sindroom gehad, maar het Ruan altyd bygestaan.
Sy is verlede jaar Augustus oorlede, net voor die kankernuus, wat dit ‘n baie moeilike tyd gemaak het. Ruan se familie staan hom ook by, maar volgens hom is Ladi sy grootste steunpilaar.
“Ek het al foute gemaak en verkeerde dinge gedoen. Almal maak foute, maar ek hoop dat die boodskap van my musiek gaan oor wat ’n mens omtrent die foute wanneer jy dit doen, of hoe hulle verander of ’n verskil maak,” het Ruan gesê.
“Ek was nie altyd die beste van mense gewees nie, maar as ek ‘n verskil in iemand se lewe kan maak met my musiek en goed in mense se lewens inbring, sal dit genoeg wees. Jy kies waarheen jy gaan en die verskil wat jy wil maak.”
To the Goodbyes is die eerste van Ruan se musiek wat al uitgegee is. Dit is beskikbaar op Spotify.
LEES OOK: Relief effort launched for Mgongo residents after devastating storm



