Local newsNews

Jong Brakpan hengelaar gekies vir SA Varswater Oewerhengel-span

Luaney Cooper leef haar passie vir hengel uit en sy gekies is vir die Suid-Afrikaanse Skole hengelspan.

Wanneer Luaney Cooper (13) met ’n visstok in die hand langs die water staan, is sy op haar gelukkigste.

Vir haar is dié tydverdryf nie net ’n stokperdjie nie, maar ook ’n sportsoort waarin sy besonder goed presteer.

Haar vernuf is van so ’n aard dat sy gekies is om vanaf 24 tot 30 September as deel van die Suid-Afrikaanse Skole hengelspan aan die Junior SA Varswater Oewerhengel Federasie-toernooi by Bloemhofdam deel te neem.

Die jong inwoner van Brakpan-Sentraal het sowat drie jaar gelede ernstig begin hengel en is verlede jaar ook aangewys as Laeskool Die Arend se Hengelaar van die Jaar. Sy is tans ‘n Graad Agt leerder aan Hoërskool Die Anker.

Luaney behoort op die oomblik nie aan ’n visvangklub nie en neem deur die skool aan kompetisies deel.

Haar gunsteling visvangplek is Die Nyl, en sy vertel trots dat die grootste vis wat sy nog gevang het, 6.5kg geweeg het.


Luaney Cooper sien baie uit na kampioenskappe by Bloemhofdam. Foto: Verskaf

“Ek vang gewoonlik darem ’n vis of twee wanneer ek langs die water is, maar die meeste vis wat ek nog op een dag gevang het, was 15,” het sy vertel..

“Ek glo nie dit is vreemd vir ’n meisie of vrou om vis te vang nie. Dit is ’n heerlike sport of stokperdjie wat deur die hele gesin geniet kan word.”

Sy het tans vier stokke waarmee sy hengel en vertel dat sy geen geheim het wanneer dit by die aas kom wat sy gebruik nie.

“Ek het wel ’n paar gunsteling ‘dips’ wat jy altyd in my viskas sal kry. Ek het ook nie ’n spesiale taktiek nie. Ek hengel omdat ek dit geniet en ek probeer maar net altyd my beste doen.”

Sy skroom ook nie om na goeie raad van ander hengelaars te luister nie.

“My ma, Nandi Cooper, en ouma, Alta Barnard, is my grootste ondersteuners. Hulle sorg altyd dat ek op die plekke kom waar ek moet wees en hul ondersteuning is vir my baie kosbaar.”


ALSO CHECK: Vier jaar ná kappietop-ongeluk wat tot verwurging gelei het, duur trauma voort


Luaney vertel dat Annelize Joubert, ’n goeie vriendin van haar ouma, haar geleer het om te hengel.

“Tog moet ’n mens maar eksperimenteer en oefen sodat jy net beter raak,” het sy gesê.

Oor die vooruitsig van die kampioenskappe by Bloemhofdam is sy baie opgewonde.

“Dit is vir my ’n groot eer om deel van die SA Skole-span te wees en ek hoop om goed te vang tydens die kompetisie. Ek weet daar is baie groot visse in daardie dam. Ek glo om te kan hengel is ’n talent wat ek ontvang het en ek wil kyk hoe ver ek dit kan vat.”

Die koste om die kampioenskap by te woon, beloop R15 000 en die Cooper-gesin is tans besig met verskeie fondsinsamelingsprojekte om Luaney se droom te bewaarheid.

Persone wat hul weg oopsien om die jong hengelaar finansieel te ondersteun, kan Nandi Cooper by 067 239 4932 skakel.


Luaney Cooper geniet dit om te hengel en vertel dat sy graag die talent wat sy ontvang het wil gebruik. Foto: Verskaf

ALSO CHECK: Neglected dog’s recovery inspires hope at Brakpan SPCA

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Thelma Koorts

Thelma Koorts is an editor with a passion for delivering high-quality editorial services that meet the evolving needs of readers and clients. She currently serves as the editor for the Brakpan Herald, Springs Advertiser, African Reporter, and Heidelberg Nigel Heraut. With over 30 years of experience in journalism, her goal is to keep readers informed and updated through informative news from the community to the community.

Related Articles

Back to top button