VIDEO: Familie bring hulde aan Malcolm Booysen een jaar ná noodlottige ongeluk
'n Jaar na die noodlottige ongeluk wat Malcolm Booysen se lewe geëis het plaasgevind het herdenk familie en vriende sy lewe.
Malcolm Booysen, ’n 14-jarige tienerseun wat op 7 Junie 2025 in ’n noodlottige ongeluk oorlede is, is Sondag op die eerste herdenking van sy dood met die onthulling van ’n grafsteen by die Brakpan Begraafplaas geëer.
Die ongeluk, wat op die hoek van Northdenelaan en Madeleystraat plaasgevind het, het groot opslae gemaak, weens die feit dat die bestuurder van die voertuig wat Malcolm getref het, ‘n 12-jarige seun was.
Malcolm, wat ‘n leerder aan die Laerskool Brakpan-Oos was, is op die toneel dood verklaar.
Die minderjarige bestuurder is na die voorval aan die polisie oorhandig en die hofsaak is steeds aan die gang. Die volgende verskyning in die distrikhof is 18 Junie.
Malcolm se ouers, Helen-Ann en Quinton Booysen, sê egter hulle weet min van die verloop van die saak buiten die datum van die volgende hofverskyning.
Familie en vriende het Sondag eers by die ongelukstoneel byeengekom om Malcolm se lewe te herdenk voordat hulle na die begraafplaas vertrek het vir die grafsteen onthulling en ’n kort gedenkdiens.
Die emosies was tasbaar. Trane het gevloei en vrae van “Hoekom Malcolm?” het herhaaldelik opgeklink.
Sy ouma, Alta Booysen, moes verskeie kere ondersteun word toe die hartseer haar oorweldig en sy inmekaargesak het.
By die graf het sy ’n margarienhouer tussen haar blomme neergesit; ’n eenvoudige maar betekenisvolle herinnering aan Malcolm se liefde vir botterbroodjies wanneer hy by haar gekuier het.
Die grafsteen dra ’n afbeelding van Batman, Malcolm se gunsteling tekenprentkarakter, asook ’n foto van hom.

Op die agterkant verskyn die name van ander familielede wat saam met hom begrawe is en wat, volgens sy ouers, nou oor hom waak.
Malcolm se ouers onthou hom as iemand wat deursettingsvermoë getoon het in alles wat hy aangepak het.
Hulle vertel ook dat hy slegs enkele weke voor sy afsterwe sy geloof opnuut ontdek het en sy passie vir die bediening met oorgawe uitgeleef het.
Wat Sondag duidelik geblyk het, is hoe geliefd Malcolm was en hoe diep sy afsterwe steeds in die harte van sy familie, vriende en gemeenskap voortleef.






ALSO READ: Follow-up: Community holds emotional vigil for teen killed in accident involving 12-year-old driver



