BlogsEditor's noteOpinion

In die kollig

Leer Bart Zaayman ken.

Bart Zaayman (65) is passievol oor motors en is een van die stigterslede van die Just Wheels Motorklub. Hy en Mariaan is al 41 jaar getroud en hulle woon in Dalpark Uitbreiding Een (volgens Bart die mooiste woonbuurt in die dorp).

• Hoe lank bestaan die Just Wheels Motorklub reeds?

Die klub se eerste vergadering is op 29 Junie 2010 gehou, in Koko’s Bowling Sentrum, in Dalpark Uitbreiding Een. Huidiglik is daar 30 lede in die klub, nie net van Brakpan nie, maar ook van Springs, Boksburg en Alberton af. Ek nooi ook al die mense van die Oos-Rand met enige interessante voertuig, om aan te sluit by die Just Wheels familie. Ons het ’n klubhuis wat te Kitzingerlaan 169 geleë is.

• Dien jy op die bestuur van die klub?

Ek was twee jaar voorsitter en tans is my amptelike titel dié van “events manager”.

• Die Just Wheels Motorskou is jaarliks ’n groot sukses en die fondse wat ingesamel word gaan vir ’n goeie doel. Sorg die organisering van so ’n reuse skou vir baie grys hare?

Nee wat, dit is net baie, baie harde werk en dit verg deeglike beplanning tot op die laaste detail. Maar, saam met die Just Wheels familie, Muriel Brand Skool en GEOTAB (die borg) is enigiets moontlik.

• Gaan ons volgende jaar weer ’n skou sien?

Hoe dan nou anders? Ons is al klaar besig met die beplanning daarvan. Die GEOTAB Just Wheels skou is besig om een van die grotes in die land te word.

• Waarmee hou jy jouself besig, wanneer jy nie met die klub se doen en late betrokke is nie?

Vir my sondes is ek ook voorsitter van die Dalpark Uitbreiding Een Inwoners Assosiasie en, glo my, met 732 huishoudings is dit nie ’n maklike taak nie. Nie al die inwoners besef die waarde van die opofferings wat komiteelede maak om die buurt veilig en skoon te hou nie. Tans is ek ook besig om ’n 1934 Terraplane te herbou en dan versamel ek ook posseëls. Ek het ook ’n groot model trein uitleg in HO skaal.

• Wat is jou gunsteling voertuig?

Ek is baie lief vir Alfa’s en sal graag, eendag, as ek groot is en ’n salaris verdien, ’n 4c wil aanskaf.

• Wat sou jy doen met ’n miljoen?

Venesië hier kom ons!

• Wat veroorsaak dat jy sommer baie kwaad raak?

Die mishandeling van weerloses, bejaardes, kinders, diere – die wat hulle nie self kan verdedig teen lafaards nie.

• Kyk jy ooit TV en waarna kyk jy?

Ja, so ’n bietjie, maar in ons huis het my vrou die afstandbeheerder. Net Leeu-rugby en Le Mans 24uur is nie onderhandelbaar nie,

• As jy vir ’n dag die burgemeester van Brakpan kon wees, wat sou jy doen?

Beslis ’n paar mense se agterstewes skop tot hulle hul werk doen, sodat Brakpan weer die pragtige, skoon tuine-dorp met die mooiste parke kan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button