
Is dit my verbeelding of is daar deesdae al hoe meer mense in die dorp wat bedel? Dit is ook opvallend dat baie van hierdie mense jong mans is.
Ek besef dat dit deesdae seker nie maklik is om ‘n werk te kry nie, maar is bedel die enigste uitweg?
Ek en my man het so ‘n week gelede by die verkeersligte naby die Mall@Carnival stilgehou en daar was ‘n mooi jong kind met blonde hare wat met ‘n bordjie staan en bedel het.
Die lig was rooi en ek kon met hom praat. Ek het beleefd vir hom gevra waarom hy nie eerder werk soek nie.
Hy was dadelik opgeruk en het vir my gesê dat dit maklik is vir my om te praat. Hy het bygevoeg dat niemand in elk geval vir hom werk sou gee nie en dat “ryk” mense soos ons dink ons is beter as hy.
My man wou eers uitklim en hom aanvat, maar ons het liewer maar gery. Ons is nie eens ryk nie en die Volkswagen Polo wat ons ry word elke maand afbetaal.
Die ander probleem is die groot hoeveelheid smouse by die verkeersligte.
Dit is ‘n gevaarlike kruising en hierdie mense trek jou aandag af. Hulle is baie opdringerig en soms onbeskof.
Ek voel dit is hoog tyd dat iemand iets doen. Hulle word by die dag meer en hulle los hulle gemors en papiere net so.
Dit is tog ‘n ingang van ons dorp en dit lyk nie goed nie.