Diere staan nie kans teen monsters nie
F C van der Merwe, Brakpan-Noord, skryf:

Ek wil net ons groot hartseer en verdriet met die lesers deel.
Vrydagoggend (7 Februarie) is drie van ons honde vergiftig.
Ons dogter het uitgegaan om, soos gewoonlik, vir ons honde skoon water te gee.
Dis toe dat sy agterkom dat daar groot fout is. Die honde het elkeen in ‘n ander hoek van ons erf gelê en was reeds koud.
Ons harte is stukkend; ons honde was vir ons soos kinders. Ons het hulle na die veearts geneem, wie bevestig het dat die diere met Aldicarb (Two Step) vergiftig is.
Ons het ook verneem van ander honde in die omgewing wat dieselfde tyd vergiftig is.
Dit wil vir ons lyk of Brakpan-Noord die teiken is van gewetenlose monsters, wat nie besef hoeveel pyn en hartseer hulle veroorsaak deur ons honde-kinders dood te maak nie.
Wees asseblief versigtig en pas julle diere op, want hulle staan nie n kans teen die monsters nie.



