
Plaas asseblief tog my brief, want dit gaan nie eintlik oor die sisteem nie, maar eerder oor my ongeskikte en onmanierlike mede-inwoners.
Ek het glad nie ‘n probleem met die nuwe sisteem nie. Ek het my wielietjie-blik gaan haal en dit is heeltemal genoeg vir ons huishouding. Ons is vier mense in die huis.
Ek verkies dit eintik so, want nou word die swartsakke nie meer oopgeskeur nie en die rondloper honde is ook minder.
Maar nou is daar mense wat saans (ja in die middel van die nag) hul sakke op ons sypaadjie kom laat.
Dit gebeur nie net met my nie, maar met ander mense in die omgewing ook.
Die eindresultaat is dat ons dan die sakke moet verwyder, aangesien die metro dit nie gaan doen nie.
Hierdie mense is te lui en selfsugtig om die hele nuwe sisteem te laat werk.
Ek waarsku die skuldiges dat ek spesiaal ‘n kamera laat installeer het net om hom of haar uit te vang en dan gaan die poppe dans.
As jy nie ‘n wielietjie-blik het nie kan jy een gaan kry. As jy meer vullis het kan jy dit in jou voertuig laai en gaan weggooi. Daar is ‘n mini-stortingsterrein net ‘n klipgooi van Minnebron af.
Ek wil nie ander mense se gomors op my sypaadjie optel nie.



