Sestienjarige se brief oor haar ma sal die hartsnare roer
Sy is die sterkste vrou wat ek nog ooit gesien het en ek kyk op na haar.
Domenique Nolte (16) skryf per e-pos:
As dit moontlik is sal julle hierdie brief asseblief in die koerant plaas want my mamma verdien dit!
Ek skryf vir julle vandag omdat ek voel my ma, Yolande is ’n “Super Woman”.
Vandag wil ek vir almal vertel hoekom ek dink my ma is “Super Woman”.
Enige mamma is eintlik ’n held en is wonderlik maar ek glo ek het een uit ’n duisend.
Nie omdat ons elke aand ’n dak oor ons kop het nie, of omdat ons elke aand kossies op die tafel het nie, maar omdat sy ’n mamma van omgee is.
Sy is die sterkste vrou wat ek nog ooit gesien het en ek kyk op na haar.
As sy val dan staan sy op al val sy nog twee keer. Ek en my boetie het ’n oogsiekte en sy het nog nooit opgegee of ons weggegooi nie; sy het baklei vir ons!
Sy sorg vir meer as net ons klein gesin. Sy sorg vir twee ander huise ook. Sy het onlangs vir vier seuntjies in die Jabes Sorgsentrum Kersgeskenke gegee. Sy het hierdie vier seuntjies se wense vervul en sy het dit met trots gedoen.
Sy het ook onlangs vir oumatjies in Tweedy Park Kersgeskenkies gegee.
En my mamma koop nie net een dingetjie nie. Sy maak seker daar is genoeg geskenkies om almal te help.
Sy het ook vir twee seuntjies by Huis Talita ’n ietsie gekoop.
As iemand iets nodig het en sy weet daardie persoon het dit regtig nodig help sy met liefde.
Sy sê altyd vir ons: “Don’t think my kindness is my weakness”, maar min weet sy dat haar goedheid mense ver in die lewe bring.
Sy sit ’n glimlag op soveel mense se gesigte. Sy is ’n mamma wat twee kinders alleen grootmaak.
Dit is nou ek en my boetie. Met haar twee sagte handjies en warm liefde het sy ons alleen grootgemaak.
En my boetie is verseker nie een van die soetste seuntjies nie maar sy bly lief vir ons en is altyd daar vir ons wanneer ons haar nodig het, sy is regtig ons rots.
En ons is baie lief vir haar ek sou my mamma nooit ruil vir iemand anders nie!
En dit is hoekom ek dink my mamma is ’n “Super Woman”.
Lees ook:
Siblings battle near vision loss
Oneerlike mense buit sorgsentrum uit
Volg ons:



