Hartseer om bejaardes te sien bedel
Die vrou was kort van asem en dit was ’n baie warm dag.

Inwoner wat omgee skryf per e-pos:
Ek en my gesin woon al vir 28 jaar in Brakpan en wat ek deesdae (eintlik al vir ’n hele rukkie lank sien) maak my hart bitter seer.
Ek ry elke dag Boksburg toe en die pad wat ek ry neem my verby die Mall@Carnival.
Ek is seker daarvan almal het al die bejaarde tannie in die rolstoel gesien bedel, aan die een kant van die kruising en die ou oom aan die ander kant.
Ek glo nie hulle is man en vrou nie, maar dit pla vir my baie dat hierdie twee bejaarde mense dag na dag so bedel.
Ek en my seun kon verlede week gou met die tannie praat toe die verkeerslig rooi was. Sy het vir ons gesê dat sy siek is en dat sy nie ’n inkomste het nie.
Lees ook: Jong kindertjies, wat vir kos bedel, reën papnat
Ek het haar gevra hoe sy by die besige kruising kom om te bedel. Sy het gesê haar kind neem haar soontoe.
Die vrou was kort van asem en dit was ’n baie warm dag.
Haar vel is soos leer in die son gebak. Die oom, wat aan die ander kant van die kruising bedel, het darem altyd ’n langmou hemp aan en ’n hoed op sy kop om hom teen die son te beskerm. Hy lyk vir my altyd so skaam en verlore.
Wat het van hierdie mense se kinders en familie geword? Hoe is dit aanvaarbaar om jou ma (wat sieklik is) by ’n verkeerslig te gaan los om te bedel?
Ek kan ook nie help om te wonder wat met die geldjies, wat sy bymekaar maak, gebeur nie.
Dit maak my regtig baie hartseer om hierdie bejaarde mense so desperaat te sien.
Hul mense, wat dalk anderkant toe kyk, moet hulle koppe in skaamte laat sak.
Het jy ‘n storie?
Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za
of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za
of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za
Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:



