Anker se sewes in top toernooi
Hoërskool Die Anker se sewes rugbyspan het verlede naweek die Rhino Sewes Toernooi by die Hoërskool Merensky, in Tsaneen, gewen.
Dit was ‘n harde, nat en koue toernooi en Die Anker moes met groot skole soos Pietersburg, Merensky, Nylstroom, Wonderboom en Volkskool afreken om die beker te wen.
Die Anker het, deur die toernooi te wen, hul plek in Die Wiltuin Kampioentoernooi, wat op 18 en 19 Oktober plaasvind, bespreek.
Wenners van toernooie van reg oor die land sal daar speel, om die amptelike sewes wenners te kroon.
Hierdie toernooi word regstreeks op Jakaranda 94.2 asook Supersport uitgesaai, ter bewusmaking van renosterstroping.
“Skukuza is die perfekte plek om dit aan te bied en ons sien baie uit na die toernooi,” het Rocky Truter, van Die Anker, gesê.
“Ons werk al vir drie jaar hard aan sewes-rugby by die skool en ons begin nou die vrugte daarvan pluk.
“Daar is drie Valke sewes-spelers, asook ‘n Springbok sewes-speler in ons span, en die seuns het die afgelope twee jaar aan die @lantic toernooie, reg oor die land, deelgeneem.
“Verder het ons vanjaar ook aan die Potch Volkskool toernooi en die Merensky toernooi deelgeneem, en vertrek ons vandag (Vrydag) na Durban, om in die Glenwood toernooi te speel. “Daarna wag die groot een in die Wildtuin natuurlik, en ons is oorgehaal daarvoor.”



