Local sportMotoringSport

Valke en Brakpan wedstryd is gekanselleer

'n Gekibbel oor die hoeveelheid spelers het daartoe gelei dat Saterdag (more) se oefenwedstryd op Barnardstadion tussen die Valke en Brakpan Rugbyklub afgestel is.

Volgens die Valke se uitvoerende hoof, Jurie Coetzee, is die wedstryd gekanselleer omdat die Valke met 23 spelers wou speel, terwyl Brakpan 28 wou hê.

Brakpan Rugbyklub se voorsitter, Harry Nieuwenhuis, het gesê dat dit wel die geval is, maar dat die ekstra vyf spelers wat hulle wou gebruik vyf nuwe spelers is wat hulle slegs in die laaste 10 minute van die wedstryd ‘n kans wou gee om te wys wat hulle kan doen.

Coetzee het gesê: “Die Valke-afrigting wou nie sien dat die onsportiewe optrede van Brakpan van verlede jaar herhaal word nie.

Verlede jaar het die Brakpanners in die Bosmanstadion eers die tweede helfte hul volledige en beste span op die veld gesit en daarna beweer dat hulle maklik met die Valke afgereken het.

“Die tweede helfte se telling was 19-0 vir Brakpan nadat die Valke die eerste helfte met 41-7 gewen het.”

Nieuwenhuis het gesê dat Brakpan laasjaar hul amptelike tweede span in die eerste helfte van die oefenwedstryd laat speel het en toe in die tweede helfte hul eerste span die kans gegee het om vir die seisoen op te warm.

Hy het gesê dat dit ‘n aanvaarbare gebruik in oefenwedstryde is.

Niewenhuis het gesê dat dit vooraf met die Valke se afrigter daardie tyd (John Williams) gereël is en dat Williams ingestem het.

Coetzee het aangevoer dat Brakpan se afrigter vir vanjaar, Reghardt Botha, nie bereik kon word om finale reëlings te tref rakende die oefenkragmeting nie, terwyl Nieuwenhuis gesê het dat hy weer nie vir Coetzee in die hande kon kry nie.

Nieuwenhuis het uiteindelik besluit om die wedstryd te kanselleer.

“Ons kon nog nie al ons nuwe spelers toets nie en soos in 2013 sou dit ideaal gewees het om die wedstryd teen die Valke daarvoor te gebruik.

“Ons wou net ‘n addisionele vyf spelers bring, wat ‘n probleem blyk te gewees het vir Johan du Toit, (die Valke se huidige afrigter).

“Ons het met UJ onderhandel en hulle Rautels-groep is bereid om saam met hulle Assupol-span en 0/21 spanne Saterdag op Bosmanstadion teen ons te speel,” het Nieuwenhuis gesê.

Hy het gesê dat hy nie slegte verhoudinge met die Valke will maak nie en is spyt dat hulle nie kon ooreenkom oor die getalle nie.

Coetzee het gesê dat dit jammer is dat hierdie oefenwedstryd tussen die Valke en die provinsie se top klub op so ‘n wyse afgelas moes word.

Die eerste (Gemeenskapbeker) span sal nou ‘n laaste minuut wedstryd teen UJ Rautels by Bosmanstadion, op 3nm, speel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button