Valke sê dankie na 20 jaar se diens
Johann van den Berg het onlangs die eerste personeellid van die Valke rugby-familie geword wat 20 jaar ononderbroke diens agter sy naam kan skryf.
Wat die prestasie meer merkwaardig maak is die feit dat dit slegs die tweede werkgewer is waarvoor Van den Berg in sy aktiewe loopbaan gewerk het.
Tydens ’n onlangse kantoor geselligheid, om die mylpaal te vier het Jurie Coetzee, die hoof uitvoerende beampte van die Valke Rugby Maatskappy ’n herdenking skildjie aan Van den Berg oorhandig, wat hierdie tydperk van onbaatsugtige diens verewig.
Coetzee het ook erkenning aan Van den Berg en die take wat deur hom verrig is, gegee.
Van den Berg het op versoek ’n oorsig gegee van die afgelope 20 jaar as lid van die Valke rugby-familie.
Lees ook: Panne unsuccessful in Springs
“In September 1989 het oom Piet du Randt, president van Oos Transvaal Rugby Unie, my genader om betrokke te raak by die unie as die voorsitter van die fasiliteite komitee. ’n Pos wat ek tot Januarie 1998 beklee het.
“Daarna het die bekende André Watson, toe die hoof uitvoerende beampte (HUB) van die unie, en Ben Erwee, wat toe die president van die unie was, my op 2 Februarie 1998 vas aangestel as faktotum van die unie.
“In 1999 verander Willie Marais (HUB) dit na stadionbestuurder, ’n pos wat ek nou nog na 20 jaar beklee.
“Gedurende hierdie tydperk was ek ook betrokke by die Brakpan en Springs Rugbyklubs.
“By Brakpan het ek verskeie poste beklee naamlik speler, junior keurder, sportorganiseerder, o-19 en o-20 afrigter, eerste spanbestuurder, klubkaptein en onder-voorsitter.
“By Springs was ek eerste span bestuurder asook voorsitter.
“By die unie was ek nie net as die stadion bestuurder betrokke nie, maar was ek ook ’n o-19, o-20 en o-23 keurder, eerste liga skeidsregter en senior spanbestuurder saam Pieter de Villiers vir 54 wedstryde.
“Verder was ek as stadionbestuurder betrokke by die aanbied van verskeie wedstryde naamlik Die Vodacom Beker, Currie Beker toe al 14 provinsies vir die Currie Beker gespeel het, Super Rugby wedstryde naamlik Northern Bulls teen ACT Brumbies, internasionale wedstryde (Valke teen Skotland, Wallis en Engeland asook Suid-Afrika A teen Argentinië A) en dan natuurlik die kersie op die koek die toets wat ons aangebied het by die Pam Brink Stadion in Springs, Suid-Afrika teen Argentinië.
“My loopbaan tot dusvêr in die provinsie strek dus effektief oor ’n tydperk van 28 jaar, vier maande en ‘still going strong’.”
Volg ons:



