Local sport

Brakpan verloor teen Northam Rhinos in Gold Cup-reeks, spelers se besittings gesteel

Brakpan Rugbyklub se bestuur sien die diefstal van die besoekende span se persoonlike besittings in 'n baie ernstige lig.

Brakpan Rugbyklub se eerste span is die afgelope naweek gestuit in hul aanslag om die Pick n Pay Gold Cup-trofee te lig.

Brakpan sou Saterdag teen die Northam Rhinos te staan gekom het, maar die wedstryd is weens die swaar weer en gietende reën wat oor die dorp uitgesak het, na Sondag uitgestel.

Die wedstryd is vir Sondag herskeduleer, waar Brakpan in ’n harde wedstryd teen die Rhinos vasgeval het. Teen halftyd was die Panne reeds in die moeilikheid met ’n agterstand van 28-14.

’n Begeesterde Rhino-span het in die tweede helfte op hul momentum voortgebou om met 33-46 te wen. ’n Ongelukkige voorval het verder ’n demper op die dag geplaas toe ’n persoon of persone in die tweede helfte by die besoekende span se kleedkamer ingebreek het en talle selfone en beursies gesteel het.

“Ons betreur hierdie voorval wat by ons klub plaasgevind het,” het die voorsitter van die klub, Frikkie Bosman, gesê.

“Dit is niks anders as hartverskeurend om ná ’n suksesvolle seisoen so ’n absolute laagtepunt te beleef nie,” het Bosman bygevoeg.

“Ons wend ekstra fondse aan om die veiligheid van almal wat ons klub besoek, te verseker, en dan gebeur so iets.

“Dit is ’n bitter pil om te sluk. Die wete dat daar kriminele is wat op plekke rondhang waar mense hard probeer om vooruitgang te beleef, steek my dwars in die krop.

“Ons kan op hierdie stadium nie te veel inligting deel nie, maar ons neem verantwoordelikheid en gaan die saak beslis nie daar laat nie,” het Bosman voorts gesê.

Volgens hom was daar wel ’n wag in die tonnel geplaas. Ná die ongelukkige insident is die nodige verklarings geneem en is die voorval by die plaaslike polisie aangemeld.


OOK LEES: Local powerlifter at Africa arm curl championships


“Ek en my bestuur sien hierdie voorval in ’n baie ernstige lig.”

Jannie Cronjé, voorsitter van die Northam Rhinos, het die volgende in ’n Facebook-inskrywing op die Brakpan Rugbyklub se blad geplaas:

Mense, as voorsitter van Northam wil ek net vir Frikkie en sy hele bestuurspan sê dat ek kon sien hoe seer en geskok julle was toe die insident gebeur het.

Julle het ons so goed ontvang en ná die voorval kon ek sien dat julle alles in julle vermoë doen om vas te stel wat daar gebeur het.


Frikkie Bosman, voorsitter van die Brakpan Rugbyklub. Foto: Verskaf

Dit is baie jammer oor wat gebeur het, maar ek kan almal sê dat die Brakpan-bestuur tops is en God se mense is en nie verdien om sleg gesê te word nie.

Hierdie voorvalle het al by baie plekke reg oor die land gebeur. Die mense is besig met hul ondersoek en sal ons op hoogte hou oor wat aangaan. Sterkte met die ondersoek, Frikkie. Ek hoop julle kry die skuldiges.

Bosman het aan die Herald gesê dat hy groot waardering het vir die positiewe gesindheid van Cronjé.

“Daar is baie mense wat baie te sê het, maar ons gaan daarop fokus om die dief of diewe aan die pen te laat ry.

“Ek gaan ook nie toelaat dat die voorval ’n demper plaas op die harde werk wat ons spelers en veral my bestuur daagliks agter die skerms verrig nie.

“Aan ons getroue ondersteuners sê ek ook dankie. Sondag was nie ’n goeie dag vir ons klub nie, maar ons kyk met positiwiteit vorentoe,” het Bosman gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Thelma Koorts

Thelma Koorts is an editor with a passion for delivering high-quality editorial services that meet the evolving needs of readers and clients. She currently serves as the editor for the Brakpan Herald, Springs Advertiser, African Reporter, and Heidelberg Nigel Heraut. With over 30 years of experience in journalism, her goal is to keep readers informed and updated through informative news from the community to the community.

Related Articles

Back to top button