Baie dinge by dié skool pla
Bekommerde ouer skryf:

My kind is in ’n plaaslike hoërskool en het ’n graad gepluk weens van die vakke waarmee hy sukkel. Hy is ook baie teruggetrokke.
As gevolg van sy teruggetrokkenheid sal hy nie sommer vir hulp vra nie, maar ek voel dat die onderwysers moet sien dat daar fout is, wanneer hulle toetse merk en sien dat ’n kind regtig swak doen.
Dalk kan daar van die skool se kant af gepoog word om ’n afspraak met ons as ouers te maak sodat ons saam met die kind en die onderwysers kan uitwerk waar die probleem lê. Maar nee, die punte word gegee en net daar gelaat.
Ek, as ouer, voel dat die skool nie veel omgee vir kinders wat sukkel nie. Wanneer jy wel met die onderwysers praat dan klink dit goed en wel dat hulle die kind sal bystaan.
Dit is egter ’n ander saak wanneer die rapporte ontvang word. Dan is dit maar net dieselfde probleem oor en oor en oor. As jy vra of daar ekstra klasse aangebied word, dan word daar vir jou gesê, nee.
Die verskoning is dat die onderwysers besig is met sport of ander dinge naskool. Die klasse is ook so vol (40 -50) kinders in ’n klas. Hoe kan die onderwysers dan opmerk as daar ’n kind is wat sukkel?
Hulle gee nie om oor die kinders wat sukkel nie, maar die kinders wat goed doen en aan sport deelneem is die kinders wat die aandag kry.
Sport kry groot voorkeur by die skool maar sport gaan nie vir al die kinders ’n werk naskool bied nie. Die skool verafgod sy sport en dit maak my as ouer siek.
Ons betaal nie vir sport nie, ons betaal dat my kind geleer en gehelp kan word, sodat my kind matriek kan maak en ’n werk kan kry.
Wat gaan van ons kinders word; die werk is skaars die skoolfonds is duur dan moet ’n mens nog betaal vir iemand wat jou kind privaat kan help met die vakke waarmee hy sukkel.
Die onderwysers is te besig met ander dinge en dit is onaanvaarbaar vir my.
Daar is net twee Afrikaanse hoërskole in Brakpan, en dit is waar ons kinders moet skool gaan. Maar alles gaan oor geld en sport en die slim kinders en hulle ryk ouers.
Dit maak my regtig so ongelukkig dat van ons kinders daar onder moet lei.
Ons, as ouers, moet begin saamstaan teen die skole wat ons kinders geestelik boelie en hulle laat voel of hulle niks werd is vir die skool nie.
Die skole moet wakker skrik; ons as ouers betaal julle salaris. Gee ons kinders wat hulle toekom – onderrig – ons betaal daarvoor!



