Brakpan se Kersvader sterf
Die man wat vir die afgelope 21 jaar elke Desember die rol van Kersvader ingeneem en oor die jare derduisende kinderharte verbly het, is Sondagmiddag oorlede.
Thys Jansen van Vuuren (43) was reeds besig om sy planne vir die komende feesseisoen agter mekaar te kry maar hierdie jaar sal sy versierde voertuig nie deur die strate van die dorp beweeg nie.
Jansen van Vuuren het Sondagmiddag naby die Laerskool Kommando ineengestort toe hy op sy fiets oppad na sy huis in Tweedyweg was.
Kennise van hom het toevallig daar verby gery en gesien dat hy teen ‘n muur van ‘n gebou gesit-lê het. Sy fiets was eenkant.
Die kennise het sy broer, Danie, gekontak en hom by sy woonstel, in die dorp, gaan haal.
“Toe Danie-hulle by Thys aankom was paramedici reeds besig om noodhulp toe te pas,” het sy suster, Martie Roast (62) Maandagoggend aan die Herald gesê.
“Daar is te vergeefs probeer om sy lewe te red en hy is op die plek dood verklaar,” het Martie gesê.
Die presiese oorsaak van sy dood sou vandag (Maandag) tydens ‘n lykskouing bepaal word.
Thys het vir die afgelope 21 jaar elke Desember deur Brakpan en naburige dorpe se strate gery in ‘n versierde bakkie. Hy het lekkergoed aan die kinders uitgedeel en terselfdertyd speelgoed en kos vir die minderbevoorregtes ingesamel.
Thys het die “werk” wat hy elke jaar gedoen het baie ernstig opgeneem en met groot oorgawe gedoen.
Aan die einde van Desember het hy ‘n reuse partytjie, voor sy huis in Tweedyweg, gehou. Hierheen het hy minderbevoorregte gesinne genooi.
Op dié dae het hy geskenke, lekkergoed en kospakkies uitgedeel.
“Dit was vir hom belangrik om mense gelukkig te maak. Hy sou enigiets doen om ander mense te help,” het Martie gesê.
Jansen van Vuuren was ‘n bekende gesig in die dorp wat deur meeste van die organisasies en besigheidsmense geken is.
“Hy het nie ‘n vaste werk gehad nie maar hy het ook nie rond gesit en niks gedoen nie,” het Martie vertel.
Hy was gereeld in die dorp op sy fiets gesien en hy het ook vullissakke verkoop op sy inkomste aan te vul.
Jansen van Vuuren het saam met Martie en ander familielede in Tweedyweg gewoon, in ‘n huis waarin hy groot geword het.
“Ons het Sondagaand sy kamerdeur toegestoot en alles in die huis was so stil,” het sy gesê.
“Dit was bitter hartseer en aardig om hom nie Maandagoggend in sy kamer te sien waar hy gewoonlik tee gedrink het nie,” het sy bygevoeg.
Hy laat nog ‘n suster, Bets Gruen (53) asook drie broers, Danie (54), Willem (49) en Piet (57) na.



