Fiela se Kind besoek Emperors Palace
Fiela se Kind sal by die Theatre of Marcellus, Emperors Palace, plaasvind vanaf 20 Junie tot 2 Julie.
‘n Bekendstellingsfunksie van Lefra Produksies se verhoogproduksie Fiela se Kind het verlede Woensdag plaasgevind by Emperors Palace.
Die rolverdeling en regisseur het ‘n middagete by Emperors Palace se Rosetta’s Bistro geniet saam met die media om die bekendstelling van Fiela se Kind te vier.
Suzanne van Wijk het die storie vir die verhoog verwerk en Frans Swart, die hoof uitvoerende beampte van Lefra Produksies, hanteer die regie.
Swart het die produksie reeds twee keer in die verlede aangebied, in 1997 en 2007.
“Ons wil graag ook met hierdie produksie van Fiela se Kind hulde bring aan Dalene Matthee, een van Suid-Afrika se mees talentvolle skrywers,” het Swart gesê.
“Ek en my span het van die staanspoor gesê ons wil nie enige vorige Fielas kopieër nie en daarom gaan hierdie produksie vars en nuut wees.
“Ek is baie opgewonde wat in die kreatiewe prosesse gebeur het. Teatergangers gaan beslis ‘n wonderlike nuwe produksie kan ervaar – en daar is natuurlik na 30 jaar ‘n nuwe generasie wat Fiela se Kind nog nooit op die verhoog gesien het nie.”
Fiela se Kind sal by die Theatre of Marcellus, Emperors Palace, plaasvind vanaf 20 Junie tot 2 Julie.
Die produksie sal Dinsdae tot Saterdae om 8nm plaasvind en Saterdae en Sondae om 3nm.
Die volgende akteurs is te sien in die produksie: Shaleen Surtie-Richards, Marissa Claasen, Jaime du Toit, Edrien Erasmus, Johny Klein, Paul Lückhoff, Divan Prinsloo, Vian Singleton, Graigan Swartz, Marilise van Wyk, Phillru van Achterbergh, Nardus van der Vyver en Dirk Vermeulen.



