Volgens die groep se afrigter, Shihan Chimmy van Winkel, was die vegters deel van die Wes Gauteng-span wat van 29 tot 31 Oktober aan die nasionale kampioenskappe by die Valhalla Lugmagbasis in Pretoria deelgeneem het. Van Winkel is ook die president van die Wes Gauteng skopboksvereniging. Ongeveer 300 vegters van regoor die land het tydens die byeenkoms kragte gemeet.
Net gevorderde vegters met blou tot swart gordels kon aan die kompetisie deelneem. Die kragmeting is oor drie dae gehou om aan maatreëls te voldoen wat die verspreiding van Covid-19 keer.
Deelnemers het op 29 Oktober ingeweeg en gevegte het die volgende dag met mening begin.
Al die semi-kontak, ligte kontak en “kick light” gevegte is dié dag beslis terwyl die volle kontak en K1-gevegte die laaste dag van die byeenkoms beslis is. In die K1-afdelings mag vegters enige deel van hul teenstander se liggaam aanval en skop.
Verskeie van die span se lede het tydens die byeenkoms presteer.
Carissa Botha (18), het haar nie deur opponente van Pretoria en Mpumalanga laat onderkry nie en albei haar senior gevegte gewen. Carissa, wat ‘n pers gordel het, het twee goue medaljes met dié oorwinnings huis toe gebring.
Tyron Fernandez, wat ook 18 jaar oud is en met ‘n blou gordel in die seniorafdeling veg, het die silwermedalje in sy K1-geveg ingepalm.
“Hy het baie goed gedoen, want die Noord-Transvaler wat hom gewen het, het al sewe keer aan die wêreldkampioenskap deelgeneem,” sê Van Winkel.

Nóg ‘n plaaslike ster-vegter, Dillan van Graan (16), het na ‘n lang en harde geveg ook ‘n silwer in die K1-afdeling ingepalm. Dillan het ‘n pers gordel.
Die 17-jarige Kenneth Golden, wat ‘n blou gordel het, het op sy beurt ‘n brons medalje na ‘n uiters harde geveg in die K1-afdeling huis toe gebring.
RJ Fourie (15), óók ‘n pers gordel vegter, het ‘n silwermedalje in die K1-afdeling ingepalm.
Die 12-jarige blou gordel vegter Dewald Greyling het twee goue medaljes in semi- en ligte-kontak asook ‘n brons in “kick light” verwerf.
Nathan Sale (13), ‘n pers gordel vegter, het twee silwermedaljes vir semi- en ligte-kontak, asook ‘n brons in “kick light” ingepalm.




