NewsNewsSportSport

Skopboksers bring medaljes huis toe

n Groep vegters van Carletonville het verlede naweek opponente van verskeie provinsies tydens ‘n groot kompetisie in die stof laat byt.

Die skopboksers van die XKT Fight St MMA en skopboksklub in Carletonville het 9 en 10 April aan die eerste van die jaar se “Great North” kompetisies deelgeneem. Hoewel dié kragmetings voor die pandemie drie keer per jaar aangebied is, was verlede naweek se kompetisie weer die eerste een waar vegters hul staal kon wys.
Dit is by die Brakpan sportsentrum aangebied en sowat 600 deelnemers van regoor Gauteng, asook van ander provinsies het deelgeneem.
Volgens die groep se afrigter, Shihan Chimmy van Winkel, het die hoë standaard waarvoor die kompetisie bekend is, vegters van tot sover as die Noord-Kaap gelok.
Die byeenkoms is deur Raymond Philips, wat in beheer is van die moederliggaam van alle skopboks en gemengde gevegskuns (“mixed martial arts” of MMA) staan, georganiseer.
Die Carletonville vegters het met talle goue, silwer en brons medaljes in die “light”, “semi light”, “kick light” en volle kontak-afdelings huis toe gekom. ‘n Groep van die meer gevorderde vegters en hul ouers het ook as skeidsregters en baanbeamptes opgetree nadat hulle hul vir dié werk bekwaam het.
“Dit was die eerste keer in drie jaar dat almal weer soos in die verlede kon deelneem. ‘n Mens kon sien dat die deelnemers baie opgehoopte energie gehad het waarvan hulle ontslae wou raak. Alles het egter baie goed verloop,” sê Van Winkel.
Hy voeg by dat die byeenkoms goeie voorbereiding was vir die nasionale kampioenskap wat van 12 tot 15 Mei in Mosselbaai gaan plaasvind. Verskeie van die plaaslike vegters het gekwalifiseer. Van hulle gaan voor hul vertrek hulp van die gemeenskap vra om geld vir hul deelname in te samel.

Die klublede wat as skeidsregters en beamptes tydens die byeenkoms opgetree het, is voor Natasha Botha, Chantell Eddy, Chéri Golden, Chimmy van Winkel, Marlise van Graan en Bonita-Lee van Winkel. Agter is Mario Golden, Kenneth Golden, Willem van Graan en Dillan van Graan.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button