NewsNewsSportSport

Wonderfontein se sport op goeie voet

Hoërskool Wonderfontein se wintersport kook sover dié seisoen.

Die skool se rugbyspanne het Vrydag, 13 Mei die pad stad toe geneem om vir die eerste keer in drie jaar teen Hoërskool Die Adelaar te speel.
Volgens Wonnies se hoof, mnr. Danie Beeslaar, het die o.15 rugbyspan eerste uitgedraf. Na ‘n wankelrige begin waar nie een span werklik aan die gang kon kom nie, het Wonderfontein se manne uiteindelik die doellyn oorgesteek en die telbord met 5 – 0 aan die gang gesit.
Teen die middel van die tweede helfte het Wonnies 15 – 0 voorgeloop.
Die Adelaar het teen die einde teruggeslaan met ‘n langafstand drie en die eindtelling was 15 – 5.
Wonderfontein se o.16 span het van die eerste afskop af briljant verdedig en herhaaldelike aanslae op hul doellyn afgeweer. Die Adelaar het soos ‘n blou golf bly aanrol, maar die Wonderfontein-manne het rotsvas verdedig en in 15 minute geen punte afgestaan nie.
Wonderfontein kon uiteindelik uitbreek en eerste punte aanteken. Die eindtelling het Wonderfontein Die Adelaar sien klop met 20-10 en ‘n bonuspunt van vier drieë.
Wonderfontein se eerstespan het goed begin maar kon net nie afrond nie, terwyl Die Adelaar net nie aan die gang kon kom nie. Laat in die eerste helfte het Wonderfontein oor die doellyn gebreek en met 7 – 0 voorgeloop. Lisakhanye het van losskakel af die manne in blou aan die raai gehou en twee keer anderkant die doellyn gekuier, maar albei kere is die drie nie toegeken nie. Die laaste twintig minute was swak rugby van beide spanne onder die ligte van die Hoërskool Adelaar, wat nie opgewasse was vir die donker wat vinnig ingekom het nie. Die eerstespan van Wonderfontein het pragrugby opgelewer en moes eintlik heelwat meer punte aangeteken het.
Die spanne in bruin en goud lyk goed en as die kwaliteit van rugby verbeter soos wat dit nou doen, kan min dinge die spanne uit die finale hou!
“So bly soos ons is oor die wen, weet ons dat daar harde werk voorlê. Ons maak steeds te veel onnodige foute en sal nie elke keer daarmee wegkom nie,” sê die eerstespan se afrigter, mnr. Jacobs.
Hoërskool Wonderfontein se wintersportspanne het ook Vrydag, 6 Mei laatmiddag die spanne van Midrand High School met goeie oorwinnings druipstert huis toe gestuur.
Die skool se rugbyspanne het hul uitstekend van hul taak gekwyt.
Volgens die skool se hoof, mnr. Danie Beeslaar, het Wonnies se o.15 span in ‘n verkorte wedstryd 38 – 0 gewen, met Enrico Compaan wat drie drieë gedruk het.
Die skool se eerste rugbyspan het ook met 20 – 14 geseëvier. Wonderfontein se manne het vier drieë gedruk, maar die losskakel se voet was maar power en het nie een drie verdoel nie.
“Aan die einde van die dag het Hoërskool Wonderfontein se rugby skoonskip gemaak en al hulle spanne kom uit die naweek met volle ligapunte. Die komende naweek vertrek die manne in goud en bruin Johannesburg toe om die Hoërskool Adelaar aan te durf,” sê Beeslaar.
Op die netbalbane het die Wonnies-meisies net so mooi presteer.
Na ‘n stadige begin het die eerstespan netbalmeisies en die o.16 span teen Carleton Jones High School, sowel as teen Glenharvie Gekombineerde Skool gewen.
“Ons moet onthou dat die dogters vir amper drie jaar nie kon speel nie en ons is baie trots op hulle. So, na Covid het ons die stadiger begin verwag,” sê Wonderfontein se netbalorganiseerder, me. S. Botha.
Wanneer mens in Coronationstraat verby die skool ry, is daar soveel vernuwing wat jy kan raaksien, sommer van die pad af. Die pawiljoenstruktuur, netbalbane en die verskriklike hoë rugbypale van die skool is almal oorgeverf, reggemaak en verbeter.
“Ons is nog nie klaar nie. Daar is nog baie werk om ons sportterrein op die standaard te kry wat ons wil hê. Stuk-stuk sal Wonderfontein se stadion op ‘n vlak wees wat kan vergelyk met van die bestes in die provinsie,” sê Beeslaar.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button