NewsNewsSportSport

Vegters presteer nasionaal

Verskeie vegters van Carletonville en Fochville het hul dorpe en die provinsie se naam tydens die nasionale kampioenskappe hoog gehou.

Die nasionale skopboks kampioenskappe is van 13 tot 15 Mei in Mosselbaai gehou. Tussen 400 en 500 vegters het tydens die byeenkoms kragte gemeet.
Verskeie lede van die XKT Carletonville en Fochville klubs was deel van die Gauteng-span wat die provinsie tydens die byeenkoms verteenwoordig het.
Twee Carletonvillers, Carissa Botha en Tyron Fernandez, het goue medaljes huis toe gebring nadat hulle as die beste vegters in hul afdelings in die land aangewys is.
Die Fochvillers, Dillon Kieser, Louwrens Kahts en Emma Golden, RJ Fourie en Kenneth Golden van Carletonville het silwermedaljes ingepalm.
Ayanda Mabuza van Fochville en Dillan van Graan van Carletonville het elk twee bronsmedaljes verower. Ayden Peach van Fochville en Dewald Greyling van Carletonville het ook elk ‘n bronsmedalje ingepalm. CJ Fourie van Carletonville was vierde.
Intussen is die gemengde gevegskuns (ook bekend as Mixed Martial Arts of MMA) se nasionale jeugkampioenskappe ook verlede naweek in Brakpan gehou.
Verskeie vegters van die XKT Fight St MMA en skopboksklub in Carletonville het vir dié byeenkoms gekwalifiseer.
RJ Fourie het ‘n goue medalje ingepalm terwyl CJ Fourie en Alex Tuz elk ‘n silwermedalje huis toe gebring het. Dillan van Graan het ‘n bronsmedalje verwerf.
Die klub se afrigter, Shihan Chimmy van Winkel, is ook die afrigter van die Gauteng-span wat skoonskip tydens dié byeenkoms gemaak het. Die Gauteng-span het altesaam 26 medaljes, waarvan 14 goud was, ingepalm terwyl die span van die Wes-Kaap, wat tweede was, net sewe medaljes huis toe kon neem. Die Noord-Kaap was derde met vyf medaljes.

Die skopboksers van Fochville wat aan die nasionale skopboks kampioenskappe deelgeneem het, is Ayanda Mabuza, Ayden Peach, Dillon Kieser, Jaco Smuts, JJ Jansen van Vuuren, Jan-Albert Erasmus, Thiaan Badenhorst en Louwrens Kahts. Die meeste van hulle het ook medaljes verower. By die groep is hul afrigter, Shihan Jaco Pretorius. Foto: Verskaf
Die skopboksers van Carletonville wat medaljes by die nasionale skopboks kampioenskappe in Mosselbaai verower het, is voor: Dewald Greyling en Emma Golden. In die middel is CJ Fourie en RJ Fourie. Agter is Shihan Chimmy van Winkel, Dillan van Graan, Kenneth Golden en Tyron Fernandez. Carissa Botha was afwesig met die neem van die foto.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button