News

Man op aanklagte van Bestialiteit in hegtenis geneem

'n Verdagte wat na bewering sy vier honde verkrag het is op aanklagte van bestialiteit gearresteer.

‘n 48-jarige man is 16 November in Stilfontein gearresteer op aanklagte van bestialiteit.

Volgens Kolonel Adele Myburgh is die insident op 10 November by die polisiestasie in Stilfontein deur ‘n Stilfonteinse Diere-hawe (Matlosana Animal Shelter) gerapporteer. Kolonel Myburgh bevestig dat ‘n saak van bestialiteit ondersoek word en dat die verdagte 17 November en 20 November in die hof verskyn het. “Hy het na bewering sy vier honde verkrag,” sê Kolonel Myburgh.

Suzette Kotze, mede-eienaar van Matlosana Animal Shelter, brei uit op die gebeure. “’n Vriend van die verdagte het na die shelter toe gekom met videos van waar die verdagte seks met honde het,” vertel Kotze. “Ons het onmiddelik ‘n klag by die polisie gaan lê. Toe ons by sy huis opdaag het hy weggehardloop. Ons moes vir hom ‘n lokval stel om hom te vang.” Kotze vertel dat hulle met die man in aanraking gekom het en vir hom gesê het dat hy na die diere-hawe toe moet kom sodat hulle vir hom hulp kan reël. “Ek en my man het die verdagte by Meiringspark Spar opgelaai en na die shelter toe gevat. Die speurders het in die shelter se kliniek weggekruip en hom gearresteer.”

Kotze bevestig dat vier hondjies gekonfiskeer is en tans by die diere-hawe aansterk. “Dit gaan goed met die hondjies, hulle is baie lief daarvoor om met balle te speel. Op hierdie stadium gee ons vir hulle baie aandag. Nog geen mans was naby hulle nie, ons vroue-personeel werk nou met hulle. Van volgende week af sal die voorsitter van die shelter met hulle begin werk sodat ons kan sien wat hul reaksie teenoor ‘n man is. As hul ‘n negatiewe reaksie toon, sal ons hul stelselmatig weer gewoond maak aan mans.”

Dit gaan tans goed met die hondjies wat gekonfiskeer is en by die diere-hawe aansterk. Foto: Verskaf.

Kotze vertel die hondjies het ook brandsiek gehad. “Dis ‘n vlooi wat in die vel ingaan en die hare van binne af opeet. Dit gebeur wanneer honde nie gebad word en versorg word nie,” verduidelik Kotze.

Die hondjies was brandsiek as gevolg van mishandeling. Foto: Verskaf.

Die grusaamheid van die gebeure vererger egter wanneer Kotze noem dat die verdagte na die hondjies verwys het as sy vrou en kinders. “Die wit enetjie, ‘n Jack Russel, het hy gesien as sy vrou en die ander hondjies as sy kinders. Die Jack Russel het hy omtrent drie tot vier keer per dag verkrag. Haar baarmoeder moet verwyder word.” Kotze noem dat die ander hondjies ook verskeie operasies moet ondergaan. “In my opinie is die verdagte nie rehabiliteerbaar nie,” stel Kotze. “Hy het vir my en my man gesê dat hy vir die hondjies kos en blyplek gee, en dat dit is hoe die hondjies hom moet betaal daarvoor.” Kotze voeg by dat een van die hondjies Sondag, 19 November geboorte gegee het aan vier baba-hondjies. “Hy het ‘n dragtige hond verkrag,” sê Kotze.

Die hondjie wat die verdagte as sy vrou sien. Hierdie Jack Russel is volgens Suzette Kotze tussen drie tot vier keer per dag verkrag. Foto: Verskaf.

Kotze deel die skokkende nuus dat sy gereeld met sake van bestialiteit te doen kry. “Die was die eerste keer wat ons sulke goeie bewysstukke gehad het om die man te kan aankla,” sê Kotze.

Die gebeure het Kotze geruk. “Ek is baie getraumatiseer. Ek was fisies siek. Ek het koors gehad, ek het ophou eet. Ek het nie woorde nie. Dis iets afgrysliks om te sien,” Verwys Kotze na die video-materiaal wat sy en haar man besigtig het. “Ons het nagte omgery saam die speurders om hom te soek.”

Volgens Kotze is die saak uitgestel vir ‘n formele borgaansoek vir Maandag, 27 November.

Indien jy skenkings wil maak om die hondjies te ondersteun op hul herstelpad, kontak Suzette Kotze by 072 814 5927.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button