Fochville se tweede hokkiespan kroon uitstekende seisoen met ligatitel
Hoërskool Fochville se tweede hokkiespan het al hul wedstryde gewen en Hoërskool Bekker in die finaal geklop om as ligawenners gekroon te word.
Hoërskool Fochville se tweede hokkiespan het hul besonder suksesvolle seisoen op ‘n hoogtepunt afgesluit deur as ligawenners gekroon te word.
Die Fochies het verlede naweek Hoërskool Bekker van Magaliesburg met 2–0 in die finaal verslaan.
Volgens die skool se woordvoerder, Elsabe de Mesquita, het die span gedurende die hele seisoen besonder goed presteer en daarin geslaag om al hul wedstryde te wen.
“Dit is ‘n merkwaardige prestasie wat getuig van harde werk, deursettingsvermoë en voortreflike spanwerk,” sê sy.
Benewens hul ligasukses het die span ook uitstekend gevaar tydens die gesogte NWU Super 16-toernooi, waar hulle die geleentheid gehad het om vir eerste of tweede plek mee te ding.
Ongelukkig kon dié beslissende wedstryd nie plaasvind nie weens die swaar reën wat daardie week oor Potchefstroom uitgesak het.
Die span se afrigters, me. Petro Smith en me. Sarah Isherwood, het hul trots en waardering teenoor die spelers uitgespreek. Volgens die afrigters het die spelers deurentyd buitengewone toewyding, dissipline en ‘n besondere veggees aan die dag gelê.
“Ons is ongelooflik trots op elke speler. Hulle het deur die seisoen hul harte uitgespeel en as ‘n hegte eenheid saamgewerk. Hierdie prestasie is welverdiend,” het die afrigters gesê.



