Skuts van Fochville se laerskole presteer
Hulle het die afgelope skoolvakansie hul staal gewys.
Jong skuts van laerskole in Fochville het onlangs hul mikpunt op die nasionale skoleskietkampioenskap gaan toets.
Die groep skuts van Laerskool Fochville en Laerskool Losberg, wat deel van Hoërskool Fochville se skietspan uitmaak, het van 26 September tot 1 Oktober in Bloemfontein meegeding.
Hulle het aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Skoleskuttersunie se nasionale kampioenskap deelgeneem en teen sowat 470 topskuts van 10 provinsiale skietunies te staan gekom.
In die o12-pistool-skietafdeling het Brian Wasserman agtste geëindig, Hanrick du Plessis 14de, Mike van Rensburg 16de en Lihan Victor 20ste uit die 28 deelnemers in daardie kategorie.
Intussen was Dawid Byleveldt 12de en Mieke van der Walt 17de in die o14-afdeling vir pistoolskuts wat staande met ondersteuning geskiet het.
Mieke was ook deel van die o14-span wat die derde plek algeheel by die byeenkoms behaal het.
Verskeie van die jong Fochville skuts het spesiale erkennings en kentekens ontvang.
Hanrick het ‘n sertifikaat ontvang vir ‘n enkel-voltalkaart wat in Junie by die posliga geskiet is, terwyl Brian op ‘n soortgelyke wyse beloon is vir ‘n voltotalkaart wat by die nasionale byeenkoms geskiet is.
Die skuts het ook verskeie lapwapens en balkies vir hul uitstaande prestasies verdien.
Hanrick en Brian het al twee junior-, skerpskutter-, expert- en meesterskut-lapwapens ontvang, en Brian het ook brons- en silwerprestasiebalkies gekry.
Mike het Junior-, Skerpskutter-, Expert- en Meesterskutbalkies ontvang, terwyl Mieke ‘n Juniorbalkie gekry het.
Dawid het Junior-, Skerpskutter- en Expert-balkies ontvang, en Victor het Junior- en Skerpskutterbalkies gekry.



