BlogsOpinions

Tuiniers raak dalk nou ‘n ‘bedreigde spesie’

Dit lyk vir Wysneus of mense wat tuinmaak, dalk een van die dae ‘n bedreigde spesie gaan word.

Dit lyk vir Wysneus of mense wat tuinmaak, dalk een van die dae ‘n bedreigde spesie gaan word. Wysneus sien dié week in ‘n nasionale koerant dat Pretoria se mense nou skielik baie kwaai waterbeperkings het. Waar hulle voorheen net gewaarsku was om minder water te gebruik, het die Tshwane-munisipaliteit nou sommer begin om water gedeeltelik af te skakel van mense wat nie aan hul beroep om water te bespaar, gehoor gee nie. Intussen lyk dit vir Wysneus, is ons munisipaliteit nog ver van sulke dinge af. Nie net het ons nog nie waterbeperkings nie, maar ons munisipaliteit mors nog self net so lekker water. Wysneus kan onthou dat hy al sowat ‘n jaar gelede oor ‘n nare waterlek op die hoek van Talcstraat en Calciterylaan gekla het. Groot was sy verbasing toe hy sien dat die water weer daar lek. Elders in Calcite-rylaan het daar al soveel water uit ‘n lekplek waaroor ‘n raadslid nog voor die verkiesing gekla het, gelek, dat die lekkende water nou al slaggate in die pad begin maak het. Nee wat, indien die dinge so aangaan weet Wysneus nie wat van ons gaan word nie. Weens die feit dat ons enigste reën Saterdagaand maar net so
drie druppels was, voorsien Wysneus dat of ons munisipaliteit óf diegene wat vir hulle water verskaf, ons wel een of ander tyd tot waterbeperkings gaan dwing. Wanneer dit gaan gebeur, weet Wysneus nie en hoe ons ou dorpies gaan lyk nie. Hier is buitendien, lyk vir Wysneus, al minder mense wat omgee oor hoe hul tuine lyk. Indien dié wat omgee nie meer sal kan natspuit nie, sal die goed nog slegter lyk. Intussen sien ‘n kollega van Wysneus Maandag dat van die arme Fochvillers ook maar moet sukkel om hul tuintjies in plek te hou. Die kollegas het saam met ‘n raadslid rondgery om na probleme in dié dorp te kyk toe ‘n troppie beeste doodluiters oor Du Preezstraat gestap het. Van die beeste was steeds op pad en het sommer kortpad deur van die inwoners se tuine gevat. Wysneus is seker dat, behalwe vir hul pote wat die blommetjies seker lekker vertrap het, die beeste ook hier en daar ‘n happie uit ‘n lekker groen struik of ‘n ding geneem het. Wysneus kan net dink hoe die omgewing se honde geblaf het toe die beeste so deur hul erwe gestap het. Wie ookal veronderstel is om wet en orde wat betreffende vierbeen-besoekers te verseker, het duidelik dié klomp beeste gemis. So van tuine en goed gepraat. Wysneus, en hy reken talle inwoners ook, weet nou al vir meer as ‘n jaar dat onse munisipaliteit nie meer die gras op die sypaadjies sny nie. Hoewel die meeste mense nou maar begin het om self hul sypaadjies netjies te hou, is daar sommige wat hul steeds nie daaraan steur nie. Dit laat sommer alles aaklig lyk. Dan is daar egter ook mense wat in strate soos Coronationstraat woon waar daar baie breër stroke gras langs die pad is. Dié breë stroke kan nie regtig as deel van hul sypaadjies beskou word nie, of hoe? Ons munisipaliteit kla nou dat daar nie geld is om gras te sny nie, maar wat van die dae toe hulle ten duurste kontrakteurs aangestel het om elke ou grassie op ‘n oop park of iets te sny? Kon dié geld nie dalk verder gerek word nie?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Carletonville Herald in Google News and Top Stories.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button